Hulle land vroegoggend via Londen van die VSA af, huur ‘n motor en kom slaap ‘n paar uur op my bed. Ek is nie bekommerd oor die twee lywe op ‘n enkelbed nie, want ek onthou hoe my dogter na drie jaar se getroude lewe een Sondagmiddag voor die TV kop, pens en pootjies bo-op haar Amerikaanse wederhelf gelê en slaap het, en hoe hy hom dit laat welgeval het. Vyf jaar later soek hulle nog steeds mekaar se nabyheid op: hier ‘n drukkie, daar ‘n soentjie. Hoe innig dankbaar is hierdie moederhart!

Vrydagaand kuier ons by Kream in die Mall of Africa saam met nog sewe vriende wat op my dogter se fb-oproep tot kuier gereageer het. (Og mense, daardie skaapvleis!) Toe na haar kosbare vriendin H  se Randburgse meenthuis, waar 2l Cream Soda in ‘n ysemmer saam met twee fyn glase pryk en ‘n ruiker pers blomme die besoekers uitbundig verwelkom.

Saterdagoggend, na ‘n feestelike ontbyt, vat ons die pad Dinokeng toe.

By ‘n piekniekplek met die sjarmante naam “Veldjierondom” eet ons lemoene, terwyl agt kameelperde ewe statig uit die bosveld verskyn en verbystap, so asof hulle ‘n formele afspraak met ons gehad het.

Ouklip het twaalf luukse, kraakskoon tenthuise met rooi dakke, elkeen met sy eie lapa.

Ouklip

Daar is mak njalas, rooibokke en ‘n springbok binne-in die kamp en een rooibokram wat bedremmeld buite die elektriese omheining rondhang. Volgens my skoonseun probeer daardie ram sy bes om van buite af by die kamp in te kom en by die “veiliges” daarbinne aan te sluit. Hoe mooi en uniek is elke bok ingekleur en watter voorreg om die volle lengte van hulle pote van so naby te kan bekyk, sonder die lang gras wat gewoonlik die kunstige kousies verberg!

Ons verdwaal en kom met ‘n agterlangse paadjie op plaasdierhokke af, waar ‘n ietwat verwarde hoenderhaan tweeuur die middag met luide gekraai aankondig. (Sondagoggend vyfuur het hy darem sy plig met beter tydsberekening uitgevoer.) Ons dwaal verder en voel behoorlik skuldig as ons die “Privaat”-bordjie by die regte paadjie se ingang sien.

Die groot, goedige boer vat ons om te gaan wild kyk. (By ons terugkeer word twee yorkies in die safarilorrie ingelaai, waarvan enetjie die boer se ore sopnat lek in entoesiastiese verwelkoming.)

Vlakvarke wroet op hulle knieë in die grond; ‘n windmaker-volstruismannetjie draf verby met drie vaal wyfies agterna. Daar is koedoes, rooihartebeeste, blouwildebeeste, sebras… Die voëls lyk almal effe groter as gewoonlik omdat hulle vere opgepof is teen die koue. Later die dag sien die jongmense ‘n trop olifante. In die nag tjank die jakkalsies – wanneer laas het ek daardie wonderlike wilde klanke gehoor?

Op die gesellige stoep kyk my kind deur haar foto’s: “Kyk, Mamma, ‘n ruiker koedoes!”

Koedoes

Dankie, my liewe kinders, vir hierdie ruiker herinneringe.

Advertisements