Vanjaar blog ek reeds sewe jaar lank – ek het in 2011 op Litnet daarmee begin. Die Litnetbloggers was ‘n ietwat gevaarliker groep as die Afrikaanse gemeenskap hier op WP, waarin ek my so geborge voel. Daar was ‘n trol of twee doenig en diegene wat kommentaar gelewer het, was soms maar erg geniepsig teenoor spesifieke bloggers. Tog was daar, net soos hier, mense by wie ek heerlik kon kuier en wie se reaksies op my inskrywings my verras en verbly het. Een so iemand was Maryna van die Peanut Gallery: skugter, haar inskrywings skaars en altyd met ‘n onderliggende, goed weggesteekte hartseer, asof daar iewers ‘n pynlike leemte in haar lewe was. Toe ek eenkeer skryf dat Psalm 23 my gunstelingpsalm is, het Maryna iets besonders gedoen: sy het spesiaal na ‘n strandjie naby haar gery om vir my ‘n rots teen ‘n stormsee te gaan afneem, ‘n rots waarop in groot letters geverf is: “Die Here is my herder”.  Dié pragtige foto het sy as kommentaar op my inskrywing geplaas. Hoe het daardie gebaar my tog gelukkig gemaak! Toe, skielik, is Maryna se blog net weg – en daarmee saam ook al haar kommentare, waaronder die foto. Wat sou tog gebeur het dat sy haar blog geskrap het? Waar is sy en hoe gaan dit met haar?

Wat maak hulle nou: Berwick, wat so onderhoudend oor sy ervarings as nuwe pa kon vertel; Henry, wat so lekker oor die kat kon skryf wat in sy kantoor ‘n heenkome gevind het; Celeste, wat net ‘n paar maande lank sulke woordvaardige beskrywings van haar lewe in Kaapstad gepos het… Party is nog op fb aan’t skrywe; daar is ‘n blad vir oud-Litnetters, genaamd “ou Litte”, met die spitsvondige slagspreuk “Net uit Lit uit, nie uit lit uit nie”. Maar ek weet nie wie’s wie nie, want nou skryf hulle onder hulle regte name en ek ken meestal net die blogname… Dankietog vir die bloggers wat saam na WP getrek het, want hulle was ‘n kerngroep waar rondom ek nuwe blogvriende kon bykry.

Ek het begin blog omdat skryf altyd vir my terapeuties is – die blogvriendskappe wat in die proses gesmee is, was ‘n wonderlike, onverwagte bonus. So het ek maar hier op WP voortgetjommel (dankie, Tina, vir hierdie beskrywende werkwoord!) oor my lewe en nooit gedink dat dit vir enigiemand behalwe myself enigiets sou beteken nie. Seker die verrassendste meelewing wat ek ooit hier ervaar het, was Una van Bali Drome se reaksie op my vertelling oor die dooie kwêvoëltjie. Haar mooi woorde het my hartseer gesalf en weer die lewensbeginsel onderstreep dat daar veel goeds uit pyn kan voortspruit. Dit het sommer vir my die moed gegee om ‘n geleentheid te bedel en saam te ry na die Bloggachino by die dam!

Nog ‘n groot vreugde was die opwindende eskapades van die Toweropstal, wat danksy Hester se verstommende energie en harde werk twee e-boeke opgelewer het. Omdat ek baie sleg met sperdatums is, het ek nie kans gesien om deel te neem nie, maar het heerlik in die kommentare baljaar. Die vinnige walsie wat ons vandeesweek uitgevoer het om Una uit aanhouding te gaan red, was net so prettig!

Dankie aan almal wat die afgelope week kom vertel het hoekom julle blog. Dankie aan al die bloggers wat sorg dat hierdie tannie nog steeds avontuurlik kan leef.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).