pexels-photo-460659.jpeg

Daar was eendag ‘n koningin, wat in ‘n pragtige kasteel in ‘n land vol bome gewoon het. Sy was baie lief vir haar man die koning en het haarself altyd aan mense voorgestel as “die koning se vrou”.

Die koningin het rustig by die kasteel gebly om die prinsies en prinsessie op te pas terwyl die koning die wêreld vol gereis en talle avonture beleef het. Naderhand was haar geselskap nie meer vir hom interessant genoeg nie en uiteindelik het hy op sy wit perd geklim en weggery sonder om eens een keer om te kyk.

Vir die koningin het dit gevoel asof haar regterarm afgeruk was. Sy moes na ‘n klein grasdakhuisie trek, omdat sy nie meer die kasteel kon onderhou nie. Sy het elke nag drieuur wakker geword en verskriklik gehuil. Dan het haar kat op haar bors kom staan en diep in haar oë getuur, sodat sy die groen glans en die goue spikkels in die kat se oë kon sien, terwyl die kat kliphard spin: “Rrrruk-jou-rrrreg, rrrruk-jou-rrrreg…” En toe het sy sommer opgestaan en tot die volgende more aan ‘n tapisserie gaan weef, met die kat opgekrul op haar skoot om haar in die koue nanag-ure warm te hou.

Omdat haar oë so vol trane was, kon sy presies die regte kleure gare kies. Daar was blou en pers om die hartseer te besweer; rooi en oranje omdat sy so kwaad was; bruin en swart omdat dit al was wat sy in haar toekoms kon sien; maar ook groen en goud sodat haar kat se bemoediging in die weefwerk vasgelê kon word. Omdat sy elke liewe nag wakker geword het, het die tapisserie so groot geword dat dit by die deur van die huisie begin uitsteek het en naderhand die hele pad vol gelê het. Almal wat by haar huisie verbygeloop het, het hulle aan die kunswerk verstom. Die pragtige kleure het mense se seer harte sommer beter laat voel. Hulle het vir ander daarvan vertel en uiteindelik het die Goeie Fee van Handvaardigheid van die wonderlike tapisserie te hore gekom.

Die Goeie Fee van Handvaardigheid het die wêreld vol gereis om pragtige handwerkitems te versamel, wat sy in haar feëpaleis uitgestal het en waarvoor sy altyd die mense wat dit gemaak het, met ‘n pot vol goud beloon het. Sy was ‘n hoogs puntenerige fee, wat breiwerk en naaldwerk en hekelwerk en weefwerk en kerfwerk en rygwerk en pottebakkery met kwaai X-straaloë van voor tot agter en van bo tot onder en van binne tot buite bekyk het, soos wafferse Huishoudkundejuffrou van ouds.

Toe sy die koningin se tapisserie sien, was sy heeltemal oorrompel deur die vrede wat daaruit gestraal het. “Wie is jy?” vra sy. Die gewese koningin maak ‘n diep kniebuiging: “Ek is die weefster en my naam is Een-Alleen.”

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).