WomanAloneWithSuitcase1

Betyds

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien…

“En nou?” vra Braam toe hy met lang treë aangestap kom. Hy bekyk die toneel met sy gewone oplettendheid: Saar, geboë op die bok van die donkiekarretjie, die blou kombersie vol rooi stof op haar skoot. Skerwe glas in die middel van die grondpad, die tas, die Bybel en die verrinneweerde troufoto agter op die kar.

Sy mentor vandat hy ‘n klein ou seuntjie was, neem hom dringend aan die arm. “Braampie, vandag moet jy mooi werk hierso!” en Moos draai om, stryk aan huis toe, los sy donkies en die kar net daar. Die troetelnaampie wat Braam jare laas gehoor het, maak die knoop van woedende ontsteltenis in sy binneste effens los.

Hy klim terug in die lorrie en trek dit van die pad af. Dan gaan sit hy op die drywer se plek en vat die leisels vas. As die blêssitse donkies nou net nie vandag weer hulle steekse streke uithaal nie! Hoe gouer hulle by die huis kom, hoe beter. Wat op aarde het haar besiel om te wil wegloop?? Hy klik met die tong, klap met die leisels op Vaaltyn se rug. Die donkie proes, trap effens rond, staan dan weer botstil. “Mirjampie?” beroep Braam hom op die wyfie; leun oor en gee haar ‘n ligte klappie op die boud. Geen reaksie nie. Hier langs hom sit Saar so stil soos ‘n standbeeld, vee net nou en dan ‘n traan af.

Braam sug diep en klim van die karretjie af. Hy kry albei donkies aan die stange beet en beur met mag en mening. Die twee beweeg so vinnig vorentoe dat hy sy balans verloor en plat in die stof gaan sit. Die donkies swenk om hom, gaan staan dan weer rustig, terwyl Braam ‘n rympie swets van woorde wat hy baie selde gebruik.

Hy hoor ‘n menslike geproes – sit Saar jouwragtigwaar vir hom en lag? Ja – sy loer oor die rand van die karretjie en haar oë dans van die lagduiweltjies. Daardie paar blink oë, haar stowwerige gesiggie met die traanstrepe oor die wange, laat hom skielik onthou hoekom hy al sy take op die dorp in die wind geslaan het om huis toe te jaag. Hy klim vinnig weer op die donkiekar en gryp Saar se hande vas. Haar “Eina!” laat hom na haar hande kyk. Diep snye loop oor albei palms – natuurlik, dis aan die troufoto se glassplinters te wyte!

“Saar…askies, Saar – ek wou nooit, ooit hê dat ons huwelik jou so moes seermaak nie…” Braam onthou die nagte wat haar sagte snikke oor nog ‘n maand se teleurstelling hom laat ineenkrimp het van magteloosheid. Hy beleef weer al die vergeefse behandelings, mense se skimpe en onnadenkende vrae. Dan sien hy Tant Malie se juigende gesig en hoor hy haar skel stem toe sy dit voor almal in dokter Soois se wagkamer uitbasuin: “Dis positief, Braam! Jou ou ramkat – dié keer het dit gewerk!”


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).