Om “mooi” oud te word, is ‘n geweldige uitdaging. Daagliks verstaan ek die uitdrukking “a grumpy old woman” so ‘n bietjie beter!

Die ouderdom stroop ‘n mens van so baie: voorkoms, lewenskrag, werk, besittings, onafhanklikheid… Ja, die beeld van ‘n boom wat sy blare in die herfs moet laat val sodat die essensie van sy boomwees in die winter gesien kan word, is aangrypend – totdat mens besef maar jý is nou soos daardie boom. Dan skop die verset in: die vasklou aan jou waardigheid en die liggeraakte reaksie by die geringste aantasting daarvan.

Die gemene deler in hierdie verlies en verset is trots, daarom gaan googleloer ek wat die Bybel oor trots sê. So kom ek uit by my eie kerk se webtuiste en ‘n preek oor nederigheid, wat op ‘n verrassende manier na my gunsteling-psalm verwys. Die prediker wys daarop dat ons volgens Psalm 23 hoegenaamd niks het om op trots te wees nie, maar wel rede het tot diepe dankbaarheid, want dit is nie ons nie, maar God wat al die werk doen; wat aan ons rus en vrede, reddinge en seëninge skenk:

Hy laat my… Hy bring my… Hy gee my… U is by my… In u hande is ek veilig… U laat my by ‘n feesmaal aansit… U ontvang my soos ‘n eregas…

Dit lyk dus vir my asof ‘n mens oud moet word sodat jy uiteindelik ook van jou inherente trots gestroop word. Uit die oë van oumense wat die hoogmoed oorwin het, straal daar iets van die hemel self.

Psalm 73:26 Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.