Dis altyd ‘n voorreg om ‘n doopdiens gelei deur ons predikant te beleef. Hy het ‘n besondere aanvoeling vir “okkasie”, navigeer behendig om die verskillende hooftooiseltjies, en die kindertjies voel sy rustige outoriteit aan, met die gevolg dat hulle selde huil.

Vanoggend skuif ons reg hier vlak voor die doopvont, omring deur ‘n falanks familie – oumas en oupas, ooms en tantes en ‘n niggietjie in ‘n pienk rokkie. Die dopelingetjie is ook in die geselskap, uitgedos in ‘n wit skeppinkie met die suigeling se weergawe van ‘n “fascinator” op die koppie. Hoe pragtig is die kuiltjies op daardie elmbogies!

Toe mamma en pappa voor moet gaan staan, raak poplap omgekrap en begin knies. Die familie skuif rond en dan word sy eenparig aangegee na – ag, ek wou nog kyk wie het haar so vinnig stil gekry in die ry net agter my, maar mens kan mos nie onbeskaamd jou nek knak om te sien nie!

Die doop verloop glad, kleinding sit kiertsregop en laat haar die drie druppels water welgeval. ‘n Oomblik van plegtige seën – en toe vang ons dominee ‘n waagstuk aan! Hy vat die kindjie by haar mamma en draai na die gemeente toe. Ek ys om te dink dat daardie dogtertjie nou haar stemmetjie gaan verhef – maar nee, sy sit rustig op dominee se arm terwyl hy ons as geloofshuisgesin aanspoor om hierdie jongste familielidjie te verwelkom en na haar om te sien.

Dit was ‘n wonderlike oomblik.