Gister was ‘n ongelooflike dag: AsWoensdag, Valentynsdag en Gidivet se MOB (“Meet Other Bloggers”), als op een dag.

Op ‘n koel stoep langs vredige water kon ek kuier saam met Thys, Gidivet, Andrew (‘n Britse besoeker) en Voz Sola. Klarisabet het ek ongelukkig misgeloop – ons skedules het nie ingepas nie.

Om daar uit te kom, was soos ‘n hinderniswedren: My vierjarige liefiekleinkind het mangelontsteking en het nie skooltjie toe gegaan nie. Sy sit verwese onder my pers wolsjaal en toekyk hoe ek karwas. Nou en dan begin sy bitterlik huil en dan moet ek my hand op haar magie sit, want “dis seer!” Haar tweejarige boetie is gelukkig vandag heel rustig en gaan maar sy eie gangetjies. Hy het goed geslaap en sit en eet wanneer Laatlam se skoonouers onverwags opdaag. Ek gee terstond alles aan my bekwame skoonsus oor en gaan “titivate”.

My skoondogter kom tuis en ek spring in die kar – die enjin is morsdood. Swaer en skoonsus kom help om die battery weer aan die gang te kry en daar gaat ek! Dis warm, die halftwee-verkeer is nag en al die robots is rooi. Na ‘n onnodige draai omdat ek oudergewoonte so half verdwaal het, kom ek tog by die MOB uit; verlep, maar darem.

Op die tafel lê ‘n vertaling van Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati wat Gidivet vir Voz Sola gebring het en die aanblik van hierdie lieflingboek is vir my soos ‘n talisman. Ek hoor weer hoe Laatlam van die bloggers sê: “Hulle klink nes Ma,” terwyl hy oor my skouer staan en lees. Die middag glip verby…

Die beste kommentaar op Valentynsdag hoor ek toe Voz Sola vir my sê: “Happy Independence Day!”

AsWoensdag: ‘n ingetoë aanddiens by kerslig, met orrel en viool. Die teken van die kruis, die begin van die Lydenstyd…