My skoondogter kom vanmiddag tuis, al singende: “Under pressure…”

Sy moet vandag 50 kolwyntjies bak vir haar susterskind se verjaarsdagpartytjie Vrydag – more moet sy dit versier.

Sy wil nog supermark toe – die kaste is leeg.

Een van haar vriendinne kom vanmiddag vinnig kuier.

Wanneer sy vir Gabby by die skooltjie gaan haal, moet sy sommer haar baas se kleindogtertjie ook gaan oplaai – by ‘n ander skooltjie – en dié dan tot na sesuur vermaak, wanneer die ouma haar ná werk sal kom kry. Hierdie taak is vanoggend onverwags aan my dogter opgedra, want kleinding se oupa kan nou nie meer vanmiddag na skool na haar omsien nie; hy het iewers in die Karoo vasgeval.

Hierdie scenario laat my dink aan ‘n ou brief van my mammie aan haar lieflingsuster, geskryf in my eie jong-ma-dae, toe sy by my (soos ek nou by Laatlam-hulle) inwonende ouma was. Die brief het via my tante se opgegaarde briewe en kaartjies by my beland. Dit gee ‘n wonderlike kykie op Ouma se gedagtes en stille avontuurtjies. Sy skryf:

Vrydagaand. Vanaand is ‘n groot aand hier. Skoonseun se kantoormense kom hier vleis braai. Frannie verwag dat hulle 28 mense saam sal wees. Gelukkig bring hulle hul eie vleis en slaai, sy moes net die pap en sous maak – ‘n groot klomp van elk, hoor! Al waarmee ek kon help is die tamaties se skilletjies aftrek, en messe en vurke in servette toedraai….

Ek het vir F gesê hulle moet my verskoon as ek nie by hulle aansluit nie. Die artritis keil my op en ek wil nie daar by die water gaan sit nie.

Later. Ek het vanaf 7-uur tot kwart oor 8 die baba (dit was Laatlam) probeer gelukkig hou in sy pram. Hy wou nie slaap nie – toe kom F en sê hulle het nog nie eers begin om vleis te braai nie, “dit gaan altyd so”. Ek besluit om maar vir myself iets te kry om te eet. Dis toe ek vir my koffie maak dat die vrouens die kombuis inkom om hulle slaaie te kom inskep. Ek stel myself voor as F se ma. Enetjie, lyk my ‘n liewe mensie, sê sy het my al ontmoet, “by die doop”.

Siestog! Een vroutjie het haar babadogtertjie aan die slaap gemaak hier in V se kamer net toe die braaivleis gereed is. Toe is sy huiwerig om te gaan eet by die swembad “want ek sal nie hoor as sy huil nie”. Ek stel haar gerus deur te sê ek is net langsaan, ek sal hoor, sy moenie vir haar bekommer nie, ek sal haar roep as die kleintjie huil. En hier sit ek nou, dis eintlik my slaaptyd maar ek wil nie nou inklim nie, sal maar ‘n bietjie wag.

Die brief gaan die volgende dag voort met ‘n beskrywing van hoe die uwe opruim en kosmaak en kinders versorg en wasgoed was, en dan verwoord my liewe mammie die algemeen-menslike bekommernis van ma’s oor hulle volwasse, besige dogters:

Ek het dit al vantevore gesê en ek sê dit weer: geen mens kan lewe soos wat Frannie lewe en ongeskonde anderkant uitkom nie…

Ag my liewe Mamma, ek was so gelukkig destyds! Ek het tog anderkant uitgekom (weliswaar met ‘n knou of twee). Het ek ooit vir Mamma dankie gesê vir die subtiele ondersteuning daardie aand? Vir die tamatieskilletjies en die messegoed toevou en die baba stilhou? Was ek ooit eers bewus van Mamma se aanbod aan die vroutjie met háár baba?

Dis nou al baie jare lank te laat om Mamma styf vas te hou, maar op my beurt kan ek probeer om vir my skoondogter ‘n toevlug en ‘n anker te wees.