…het ek geleef, in ‘n onskuldiger, veiliger tyd.

Deur Sunnyside se strate het ek Saterdagoggende saam met my maats geslenter; blomme gekoop en geskater toe ‘n kleuter kop onderstebo deur sy beentjies loer om die eienaardige verskynsel van Nicky-met-sy-geruite-pet klein te kry.

Snags kon ek afstap garage toe om sigarette te gaan koop en die deur na my woonstelbalkonnetjie het oop gestaan in die soel somersnagte.

Op ‘n volmaannag met die goddelike mooi klanke van Mendelssohn se vioolkonsert nog in ons ore het ons deur die Uniegebou se tuin gaan wandel.

Groot en klein liefdes het gekom en gegaan. Ek kon huis toe ry, na my ma en pa se koestering; ek kon in my boetie se tuin onder blomappelbloeisels gaan sit.

My loopbaan het ek sonder huiwering opgeskop om ma-en-huisvrou in die voorstede te word. Daardie jare is ‘n waas – ek het drie notaboekies met kindergesegdetjies; ‘n klomp skyfies in plastiekkassies; ‘n paar foto’s; vae herinneringe aan familiekuiers, kersfeeste, oujaarsaande, doopgeleenthede, my gasvrye skoonsus en stil, sterk swaer se lieflike Bosveldplaas, Kaapse strande…

Hoe wens ek nou dat ek boekgehou het!

Nuwejaarsvoorneme: Noudat die lewe stadiger is en die tyd meer, om elke oomblik wat nog hier vir my oorbly, aandagtig en gedagtig te koester.

100_2382.jpg