“Waarheen gaan jy, Ouma?” “Kerk toe, Liefie.” “Is dit Sondag?” “Nee, dis Saterdag, maar vandag is ‘n spesiale dag – Ouma sal jou vertel as ek terugkom.”

So ver soos wat ek ry, wonder ek: hoe vertel mens vir ‘n vierjarige van Bloedrivier? Nee – jy durf dit mos hoegenaamd nie doen nie! Haar wêreldjie is veilig, daar’s nie plek vir mense wat mekaar seermaak nie. In ieder geval is die bloeddorstige, heldhaftige verhaal hoegenaamd nie vanpas in 2017 nie.

Die gesamentlike diens van die drie susterskerke word in my eie gemeente se kerkgebou gehou. Die kerk is leër as op ‘n gewone Sondagoggend… Met orrel-en-trompetbegeleiding sing ons Psalms, Die Lied van jong Suid-Afrika en, reg aan die einde, verse 1 en 4 van Die Stem.

Ek verlang verskriklik na my boetie, wat as seuntjie altyd saam met ‘n maatjie wie se pa by die reëlings betrokke was, ‘n Geloftedagdiens gaan bywoon het. Ag, hy moes vanoggend hier langs my gesit het! Ek het twee jaar gelede by hom en sy/my geliefdes in Nieu-Seeland gekuier en ek weet nie of ons mekaar ooit weer op hierdie aarde gaan sien nie…

Die diens is gedemp, boetvaardig, verootmoedigend. Psalm 107 vermaan ons: “Wie verstandig is, … moet let op die Here se dade van trou.” Daar kry ek, soos maar altyd weer, die antwoord op my dilemma.

Terug by die huis, vinnig so in die verbygaan in die kombuis, verduidelik Ouma: “Vandag is ‘n spesiale dag, ons noem dit ‘Geloftedag’. Lank terug was ons mense in baie groot moeilikheid. Hulle het die Here gevra om hulle asseblief te help en Hom belowe dat hulle elke jaar op hierdie dag soos op ‘n Sondag kerk sou hou, op die dag waarop Hy na hulle gebede geluister het.” “O,” sê die kleintjie en gaan haar gang.

Mag sy altyd weet dat haar hemelse Vader na haar luister.