Met die hoed in die hand kom mens deur die hele land.

Bloggers het hulle toe oor my ontferm en ek kon heerlik saamry na Saterdag se Bloggachino toe. Op my eie sou ek dit nooit gemaak het nie: vir iemand wat deesdae net heen-en-weertjies ry, was dit sommer ver!

Toe ons so aangestap kom, sien ek die mooi gedekte tafel by La Terrazza en ja – dit was ons s’n. Ons het eers by Una se keurige winkel ingeloer (mense, daar’s fassinerende goed!) en toe het ons ons by die restauranttafel gaan tuismaak. Die diens was flink en vriendelik – ek vermoed dit was ter wille van Una.

My indrukke van my mede-bloggers was dié van energie, belangstelling en deernis. Energie, omdat hulle almal besige mense is wat tydjies moet afknyp om te skryf – en tog kry hulle dit reg. Die avonture wat hulle aanpak, is ook nie vir lui mense nie! Belangstelling, want hulle luister net so goed as wat hulle gesels. Deernis, want hulle het my oor ouderdomsgrense heen welkom en tuis laat voel.

Saam het ons omtrent alle fasette van die liefde verteenwoordig: ‘n ontluikende liefde; ‘n gevestigde kameraadskap waar die een die ander af en toe ligweg en koesterend aanraak; ‘n geborge vrou wat in die middelstroom moet swem om kop te hou met al haar verpligtinge en af en toe saam met haar liefling wegbreek om na die skaars stilte te gaan soek; iemand wat dapper en jubelend haar eie weg baan; ‘n ou vrou “in haar liefde verlaat”.

Ons het ure omgekuier…

Toe ek weer sien, is my deel van die rekening betaal! Dankie, Una!