Twee van my vriendinne gaan Kersfees 2017 waarskynlik alleen deurbring en alhoewel hulle my verseker dat dit uit eie vrye wil is, is dit vir my verskriklik. Twee jaar gelede het ons jong dominee haar huis oopgestel en enigeen wat wou, genooi om die Kersete daar by haar te gaan geniet. Watter dapper ding om te doen, watter wonderlike gedagte, om so die eensaamheid van mense te verlig. Want daardie eensaamheid oorval ‘n mens skielik en onverwags.

As dit nie was vir Laatlam en sy gesin en sy skoonmense wat my so gulhartig in hulle groot familiekuiers insluit nie, sou vanjaar se Kersdiens vir my bitter moeilik gewees het: omring deur vrolike gesinne, sonder dierbares van my eie – my broer en sy gesin in Nieu-Seeland, Middelkind en sy gesin in Ierland, my dogter en skoonseun in die VSA. Anders as my vriendinne, sou ek egter hemel en aarde beweeg het om nie dié dag alleen deur te bring nie. Nou is dit Goddank nie vir my nodig nie. Tog het die Feestyd gevaarlik naby daaraan gekom om vir my smartlik in plaas van vreugdevol te wees. Daarom droom ek vandag oor vergange Kersfeeste en verlore mense…

So net voor Geloftedag pak ons die kar met alles wat mens nodig het vir Kersfees-by-die-see met twee kleuters. Die dae word gerangskik rondom wind, son en slaaptye. Kersdag woon ons die diens in die gemeenskapsaal by en vier dan fees saam met die uitgebreide familie van my man: daar is ‘n oom en liewe tannie; ‘n niggie met haar vriendin; ‘n neef met sy tweede vroutjie, haar dogtertjie en sy eerste huwelik se dogters (hoe dapper smee hulle hierdie nuwe gesin!); nog ‘n niggie en aanhangsel wat lukraak kom kuier het; vriende wat ook hier vakansie hou; plaaslike inwoners wat my man raakgekuier het.

Elke groepie bring ‘n voorgereg of ‘n bord kouevleis en een soort slaai waaroor vooraf besluit is. Die resultaat is ‘n tafel wat kreun onder ‘n besonderse feesmaal sonder dat enigiemand haar morsdood gewerk het. Ons trek klappers en sit die verspotte papierhoedjies op ons koppe. Die weer is nooit op Kersdag mooi nie; daarom verkas die kinders na ete kamers toe om op die boonste stapelbeddens met hulle presente te gaan speel – ‘n gevaarlike oefening, aangesien daar nie leertjies is om mee op te klim nie, maar beskermengeltjies werk ook op Kersfees.

Die flukse vrouens onder ons gaan was die skottelgoed; die tannie deel sopies Old Brown sjerrie uit. Hier en daar knaag ‘n dappere nog aan ‘n stukkie Kersfeeskoek. Ek maak vir ‘n paar van ons tee.

Laatmiddag as die wind bedaar het, gaan stap ons op die strand. Die see is stormagtig en die sand koud onder ons voete, maar ons harte klop warm in die samesyn van nog ‘n Somerkersfees.

Miskien is dit sulke herinneringe wat maak dat ek alewig begin huil wanneer Koos Doep se pragtige Kerslied speel, nes ‘n dekselse Pavloviaanse hond.

100_2164

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=752602

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).