10 November is my pappa se verjaarsdagdatum. Hoe geseënd is ek om so ‘n pa te kon gehad het!

Iewers is daar ‘n kiekie van hom met ‘n klein katjie in elke hand en die teerste glimlaggie op sy gesig. Een van my eerste herinneringe is hoe hy my opgeswelde voet gestreel het toe die bysteek erg gejeuk het. Ek sien sy sorgsame hande, besig om vir my ‘n stukkie biltong te kerf.

Altyd was hy beskikbaar om my rond te ry: winkels toe, openbare swembad toe, na maatjies se huise toe. Vir my toekoms het hy gesorg deur vakkeuses te bespreek en ‘n onbeperkte boekerekening oop te maak. Hy het my danslesse laat neem voor ek universiteit toe is – hoeveel heerlike aande het dit my besorg om met selfvertroue oor die dansbaan te kon gly!

Op ‘n klipperige Wes-Randse erf het hy die wonderlikste boord en prieel aangelê; elke jaar op haar verjaarsdag die eerste sappige perske seremonieel aan my mammie oorhandig. Vir my het hy in liefderike oordaad vrugte en blomme gepluk om saam te vat na my eenvrouwoonstel toe.

Hy was ‘n geliefde skoolhoof wat sy roeping met oorgawe uitgeleef het; ‘n toevlug vir onderwyser, ouer en kind. Een jaar na sy aftrede is hy skielik oorlede. Met sy begrafnis het van die skool se personeellede teen my mammie se skouer kom huil…

Ag pappa, ek verlang.