My Liefiekind

Die dag toe jy gebore is, moes Ouma eers ‘n stuk werk klaarmaak voordat ek jou kon gaan ontmoet. Lank dié middag het ek jou op my skoot vasgehou en na jou slapende ou gesiggie gekyk – so klein, so weerloos. Vandag is dit presies vier jaar gelede.

Jy en ek het in hierdie vier jaar allerlei avontuurtjies beleef, maar my beste herinneringe is aan ons stappies in die Botaniese Tuin. Onder hoë bome het ons geskuil en oor grasvelde gehuppel. Ons het kolganse en kiewiete gesien en soms gaan sit en ryspoeding geëet.

Deesdae help jy my graag om eiers te klits en deeg aan te maak. Jy is ‘n nuttige helpertjie, soos nou-die-dag toe ons die roompoffertjies met die hand moes vorm omdat ons nie ‘n versierspuit gehad het nie. Ewe behendig het jy elke deegklontjie bewerk – ag, en dat jy hier teen die einde van die proses ‘n hele ry met jou voorarmpie platgedruk het, sal ons vir niemand anders vertel nie, nè?

Wanneer jy vies of hartseer of verleë voel, druk jy jou koppie so skuinsweg teen jou skouertjie en korrel met ‘n vreeslike frons na ‘n mens. Wanneer jy lag, juig die hele wêreld saam.

Jy is so lief vir klim! Partykeer het jy amper my hart laat gaan staan met jou onverskrokkenheid. Nou klouter jy rats op en oor jou klimraam, swaai soos ‘n apie daar af en land veilig en vas op jou voetjies. Jou handjies het eeltjies aan die binnekant van al die vashouwerk.

Hoe vertederend is dit om te sien hoe jy daardie handjies teen mekaar sit as daar gebid word! Mag jy tog nooit op jou lewensreis jou kinderlike geloof verloor nie.

Mag jou vreugde meer wees as jou verdriet, jou hele lewe lank.

100_2218.JPG