Klein Gabby word vandeesweek vier jaartjies oud en ons het Saterdag partytjie gehou.

Skoolmaatjies, niggie en nefies het kom saambaljaar en eet; onder die berg geskenke ingevaar en chaos geskep soos wat net klein kindertjies kan.

Die oumas en oupas het in die koel lapa met sy Bosveldse grasdakgeur teen die hitte geskuil en die jong ouers het die son buite trotseer.

Dit was ‘n wonderlike dag.

Sondagoggend vroeg bring Gabby vir my ‘n plakkertjie uit een van haar presentboeke met ‘n groen sterretjie (groen, want sy weet dis my gunstelingkleur). Toe ouma vra hoekom sy ‘n sterretjie kry, hoor sy die volgende getuigskrif:

Want jy pas jou kamer op en jy kam jou hare en jy borsel jou tande en jy slaap soet.

 Ouma het inderdaad Saterdagnag soet geslaap – sy was vodde.