Laas Saterdagmiddag kon ek en my drie “katvriendinne” saam gaan koffiedrink. Dis altyd ‘n spesiale geleentheid, want in ons almal se lewens is tyd op verskillende maniere ‘n groot faktor.

Mi het ‘n spesiale katvaste tuin, met klimrame en bokse en allerlei katbederfies. Hier woon niks minder nie as 20 volwasse katte! – katte wat uit verskeie haglike omstandighede gered is en wat toe nooit ‘n eie huis kon kry nie. Om so ‘n paradys te skep en in stand te hou, is al bewonderenswaardig, maar Mi doen veel, veel meer: Dikwels word bedremmelde, piepklein katjies, êrens uit ‘n weggooiboks gered of in ‘n sloot ontdek, na haar toe gebring sodat sy die rol van hulle mamma kan vervul. Eindeloos geduldig sit sy hulle met ‘n drupper en voer, maak hulle verwaarloosde ou ogies skoon, vryf die agterstewetjies sodat die liggaamsfunksietjies kan gebeur. Wanneer mens in haar yslike kattecrèche instap, begroet die fyn skreeustemmetjies van ‘n horde katjies jou. Soos die katjies selfstandig word, kry sy vir hulle huise – vir dié wat nie geplaas word nie, is daar die heenkome van Mi se kattetuin. Hierbenewens het sy ook ‘n volle huishouding: twee kinders, ‘n lewensmaat, nog huiskatte en honde. Hoe kry sy dit alles reg? Haar praktiese inslag blyk uit die klererollers (daardie taai papierrollers wat die kathare so effektief kan oppik – die uitvinder verdien ‘n Nobelprys!) langs die ingange tot kattetuin en kattecrêche, wat sy so amper ingedagte oor haarself rol wanneer sy klaar met die katte doenig was. Verder dra haar passie haar, want sonder hartstogtelike liefde vir hierdie sjarmante diertjies sou ‘n mens sekerlik nie so hard vir hulle kon werk nie…

Vir L het ek ontmoet toe sy die wilde wit kat begin voer het wat deur die eienaar agtergelaat is nadat hy flenters gekrap is in sy pogings om die verwilderde kat saam met hom te laat trek. L het soggens en saans op die verlate meenthuisie se stoep vars water en kos in silwerskoon bakke kom uitsit. (Daardie kat lê nou hier langs my rekenaar opgekrul. So af en toe spin sy om my te verseker dat sy nie omgee dat haar kosbakkie nog nooit weer so skoon was soos destyds toe L vir haar gesorg het nie.) L voer ook al jarelank ‘n kat wat langs ‘n paadjie naby haar meenthuis woon en sy beleef dikwels avonture met verdwaalde en verwese katte.

Dan is daar M. Wat kan mens sê van iemand wat haarself so dryf? Ek kan haar maar net kopskuddend bewonder. Saterdagmiddag moes sy vroeg loop, want sy en ‘n maat sou iewers gaan katte vang. Sy het spesiaal-gemaakte staalhokke met hekkies wat toeklap wanneer ‘n kat se gewig op die bodem registreer. Verder het sy ‘n lepel en ‘n blikkie vis as gereedskap: sy stel die hekkie en pak ‘n spoortjie vis tot op ‘n strategiese plek binne-in die hok en voilá: nog ‘n straatkat is gered. Dis egter net die begin: nou steriliseer ‘n roepingsbewuste veearts die kat teen kosprys (uit M se sak), waarna sy die kat gaan terugplaas in die vertroude omgewing waar hy gevang is. Tweekeer ‘n week gaan voer M nou al die katte wat sy so van uiterste ellende en onbeheerste voortplanting gered het. Sy ry die hele Pretoria plat: Weskoppies, Steve Biko, Sunnyside, Arcadia…Haar avonture laat my om die beurt skaterlag en ril en huil. Saterdagaand halftien Whatsapp sy: Ek sit in die ysige wind en hou ‘n hok dop. Ek voel na huil maar moet net uithou. Wens vir huistoe gaan! Sy het kwart voor 12 daardie nag eers tuisgekom…maar sy het haar missie suksesvol afgehandel.

Hier is M se Whatsapp oor haar program vanoggend: Moes ‘n klein katjie wat ‘n huis gekry het (waaroor ek baie dankbaar is!) Waterkloof-veearts toe vat, moes ‘n kat binne Checkers wat ek oornag gevang het (waaroor ek vreeslik dankbaar is want ek het gesukkel daarmee) gaan haal en veearts toe vat vir sterilisasie. Nou muffins bak vir W wat haar inneem en petsmince kook vir hospitaalkatte vir vanmiddag.

Net eenkeer het ek saam met M op so ‘n vangekspedisie gegaan. Die hokke is swaar en die omgewing gewoonlik onherbergsaam. Dis hartbrekende, fisies veeleisende, ondankbare werk wat bomenslike geduld verg. Maar ai, watter ervaring was dit tog om te sien hoe my sagmoedige, beskeie vriendin in ‘n vurige kruisvaarder verander! Sy dra die hokke asof hulle veerlig is en gee besliste bevele. Sy stuit nie vir donker agterstraatjies of vyandige opsigters nie. Sy vorm ‘n bondgenootskap met vriendelike perseelwagte en beloof hulle dat die Here hulle sal seën omdat hulle hul oor die katte ontferm. Haar onverskrokke passie is absoluut verstommend.

Vir die lelike, wilde wit kat is ek ekstra lief, want dis sy wat gemaak het dat ek hierdie drie besonderse mense kon leer ken.

Terr 1

Advertisements