Reeds vantevore het die uwe al oor Afrikaans geblog:

https://blogs.litnet.co.za/frandr/2013/04/23/oor-afrikaans/

https://frandr.wordpress.com/2015/10/22/my-hart-is-seer/

Ja, ek is diep bekommerd. Van die ses kinders die naaste aan my hart en bloed, word net twee in Afrikaans grootgemaak. Die dryfkrag en entoesiasme van die sewentigerjare van die vorige eeu, toe wette vanselfsprekend in Afrikaans óók uitgevaardig is en vakkundiges die een na die ander Engels/Afrikaanse terminologielys gepubliseer het, het soos mis voor die son verdwyn. Mense wat vir Afrikaans ‘n lansie breek, word van duistere agendas verdink en vir “ongasvry” uitgekryt…

As Afrikaans sou uitsterf:

  • Sou daar vir my nie meer voëls in die tuin wees nie. Die paar voëltjies wat ek ken, ken ek net in Afrikaans. Vaagweg onthou ek ’n ophef toe die 7e uitgawe van Roberts se “Birds of Southern Africa” verskyn het – sonder die vorige uitgawe se Afrikaanse voëlname. Elke keer as ek DeWetsWild se wonderlike artikels oor voëls lees (dankie, Dries!), wens ek hy wil uit beginsel die Afrikaanse name insluit (hy doen dit soms, maar nie deurgaans nie). Nou-die-dag het ek erg gesukkel om agter te kom dat ’n “francolin” eintlik ’n fisant is!
  • Sou ek nie meer kon kook nie. Al die kruie (roosmaryn, basiliekruid, tiemie, salie) en speserye (kaneel, borrie, neutmuskaat, naeltjies) sou weg wees, soos wat dit reeds uit die meeste mense se woordeskat verdwyn het. Die dag toe die Robertson-maatskappy besluit het om nie meer hulle tweetalige etikette te druk nie, was ’n kwade dag.
  • Sou die stemme in my kerk stil word. Sou ek nie meer Psalm 23 kon sing nie:

Net soos ’n herder uittrek met sy skape

En hul laat neerlê in die veld van milde groen,

Met sagte hand hul lei langs stille waters –

So is die Heer, so het Hy ook aan my gedoen:

Hy laaf my siel en lei my swakke skrede

In vaste spoor van sy geregtighede. (Totius)

Nie een sal U ooit van u skaap berowe:

U is by my in diep en donker klowe.

Wanneer ek afdwaal, haak u staf my nader

En met u stok verdryf U die gevare.

By U is ek beveilig en geborge:

Bevry is ek van vrese en van sorge. (Lina Spies)

Totdat dit oorloop, Heer, vul U my beker.

’n Feesmaal word vir my as eregas berei.

Van gasvryheid word ek deur U verseker.

U salf my hoof, u tafel is oorlaai vir my.

Ek bly by U, Heer, in u huis van voorspoed

En lewenslank deel ek daar in u oorvloed. (T T Cloete)

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

 

Advertisements