Die eerste Lê-Jou-Eier-uitdaging het my onmiddellik aan ‘n bepaalde deel van my kosbare vriendin dr. Helena Liebenberg se navorsing laat dink. Oor die jare het sy as Afrikaanse taalkundige die herkoms van Afrikaanse idiome op verskeie terreine nagespeur en met die interessantste gegewens vorendag gekom. Mens kry ‘n idee van haar verstommende hardwerkendheid as jy besef dat hierdie soort navorsing vir haar soos ontspanning was!

Uit die middeleeue het Afrikaans idiome soos die volgende geërf:

In die bresse tree – Wanneer ‘n middeleeuse stad onder beleg was en die aanvallers daarin kon slaag om ‘n gat (“bres”) in die stadsmuur te maak, het die verdedigers letterlik in die bresse getree deur in die opening te gaan staan om die vyand af te weer. Hieruit het die figuurlike betekenis ontwikkel, sodat ons vandag vir iemand in die bresse tree deur daardie persoon te ondersteun of te beskerm.

Witvoetjie soek – In die middeleeue was dit die gebruik om diere met wit voete tolvry deur die stadspoorte te laat gaan; dit was dus voordelig om so ‘n dier te besit. Hieruit het die betekenis ontwikkel van voordeel oor die algemeen na te jaag.

Ons vergeet soms dat ons voorouers op seilskepe die lang reis na die suidpunt van Afrika moes aanpak. Uit die skeepvaart kom uitdrukkings soos:

Die loef afsteek – Wanneer een skip aan die windkant (=loef) van ‘n ander skip beland het en dus letterlik die wind uit sy seile geneem het, het dit die ander skip bedroë gelaat. Wanneer mens dus iemand die loef afsteek, oortref jy daardie persoon.

Van bakboord na stuurboord – Van die linkerkant van ‘n skip na die regterkant; as mens iemand van bakboord na stuurboord stuur, jaag jy hom rond en bont, oftewel hot en haar.

Na die reise per skip het die reise per ossewa gekom:

Hot en haar Hot het na die linkerkant van die span trekosse verwys en haar na die regterkant.

Dit hotagter kry – Die osse wat heel agter getrek het, was die maklikste om m.b.v. die sweep aan te jaag. Gewoonlik is die sterker os regs ingespan, sodat die os op hotagter die swaarste gekry het.

Lunsriem – Dit was ‘n riempie (=strokie vel) wat om die pen (=luns) gebind was wat die wawiel aan die as vasgehou het. Uiteraard het hierdie riempie baie vuil geword, sodat dit ‘n erge belediging is as mens iemand as ‘n lunsriem beskryf.

So bewaar ‘n taal se idiome reste van die sprekers se geskiedenis…

Hoe jammer is dit tog dat jongmense se oë dieselfde onbegrypende uitdrukking kry wanneer hulle party van hierdie uitdrukkings hoor as wat myne kry wanneer iemand vir my probeer verduidelik hoe om ‘n “riemout” te gebruik…

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.