Die beeld van die mens as pelgrim op sy lewenspad tref nog altyd my hart – daarom dat die lied Pelgrimsgebed wat Amanda Strydom “op ‘n reënerige dag in ‘n gastehuis in Durbanville” geskryf het, my so aangryp. Wanneer sy met haar wonderlike, passievolle stem hierdie woorde vertolk, loop my trane onkeerbaar.

Pelgrimsgebed

Vader God U ken my naam

My binnegoed en buitestaan

My grootpraat en my klein verdriet

My vashou aan als wat verskiet

U ken my vrese en my hoop

Die pad wat ek so kaalvoet loop

Die pad het U lankal berei

U maak die pad gelyk vir my

Alle pelgrims keer weer huis toe

Elke swerwer kom weer tuis

Ek verdwaal steeds op u grootpad

Soekend na u boardinghuis

Moeder God U ken my waan

My ego en my regopstaan

Die drake waarteen ek bly veg

U wys my altyd weer die weg

U het my met u lig geseën

Die lig strooi ek op iedereen

Net U weet hoe my toekoms lyk

Ek het niks, U maak my ryk

Alle pelgrims keer weer huis toe

Elke swerwer kom weer tuis

Ek verdwaal steeds op u grootpad

Soekend na u boardinghuis

Die dae vlieg nou verby en die afskeid is naby: my kleinseuntjie sal skooltjie toe gaan en my kleindogtertjie sal nie meer saans styf teen my kom sit nie. Sy weet nog nie eens Ouma gaan vir ‘n ruk Amerika toe nie – ek sal haar vertel net voordat ek vertrek. Die lang, donker vlug lê voor, waarna ek namens my kinders daar anderkant sterk sal moet staan. My moed begewe my…

Ek luister weer na Amanda, gaan skryf die woorde van haar gebed in ‘n ou dagboekie neer en lees toevallig (?) die gedagte vir daardie datum:

Here, help my om altyd te onthou om deur die krag van u Gees te leef en nie dinge uit my eie krag te probeer doen nie.

 

 

 

 

Advertisements