Sy is ʼn kleine, fyne vroutjie, maar sy maak die wonderlikste smaakvolle behangsels, tafeldoeke, tafellopers en blindings vir ons kerkgebou: groot, swaar stukke wat nie deur die dimensies verswelg word nie en deurgaans bydra om warmte in die huis van die Here te skep.

My skoonsus het my skoonmammie se naaldwerktalent geërf; ek onthou hoe ek by haar gesit het terwyl sy in ʼn japtrap vir ons kleutertjie die mooiste broderie anglaise-rokkie gemaak het, wit met fyn matroosblou kantrandjies om die vrygewige valletjies, ʼn rokkie wat behoorlik opgedra is. Jare later het sy vir daardie einste dogtertjie se matriekafskeid ʼn droomrok van amberkleurige kant saam met ʼn vollengte sprokiesmantel gemaak. Vir my was daar (onder andere!) ʼn mosgroen aand-ensemble, met liefde geskep en met vreugde ontvang.

My jonger skoonsus het vir my ʼn vadoek borduur met “Sussa” langs ʼn vrolike mandjietjie blomme. Ook ʼn spierwit stel handdoeke vir my kleinkind Gabby – die kleinste handdoekie met “Ouma”, lint en ʼn hartvormige knopie versier.

Ek ontvang ʼn omgehekelde waslappie as blyk van waardering en verstom my aan die eweredige stekies.Die pragtige gebreide en gehekelde kombersies wat Dirkie op fb plaas, slaan my asem weg van bewondering.

Ag, as ek tog maar ʼn enkele talent self kon gekies het! Dan sou ek en juf. Bekker nie mekaar tot raserny gedryf het in die laerskool nie (die enigste naaldwerksteek wat ek tot vandag toe behóórlik kan doen, is komberssteek, nadat ek agt lang nate van ʼn prinsesstylrokkie moes omwerk – dankie, juffrou!) Op my mammie se Singermasjien het ek heerlik popklere gemaak vir my “teenager”-poppe en toe sy vir my ʼn eie masjien present gee, selfs ʼn rokkie of twee vir myself… Dit was egter altyd ʼn stryd: dinge gaan goed tot op ʼn punt en dan loop alles skeef, ek moet uittrek, niks wil werk nie en uiteindelik lê daar nog ʼn mislukte poging iewers in ʼn kas. Breiery het goed gewerk solank dit net ʼn reguit stuk was – die oomblik as ek moes verminder/vermeerder, het die ellende vol in die blom gestaan.

In die vloedgang van huishou en kinders grootmaak het ek moed opgegee: my 5-duime-gesukkel was net te tydrowend.

Verlede jaar toe my kleinseun op pad is, wou ek opsluit vir hom ʼn spoegdoek omhekel, maar had gʼn benul hoe om dit te doen nie. Toe gaan ek na die Kreatiwiteitsgroep by die kerk, want ek wis dáár is die voorvroue en raakvatters bymekaar. Gewapen met ʼn boek (“Alles oor hekel”), pen, blou gare en doek vra ek toe om hulp. Een dierbare vrou willig in om my te onderrig. Meewarig kyk sy na die moles terwyl ek sukkel. Uiteindelik seg sy: “Gee hierso, ek sal dit vir jou doen.” Sondagoggend kry ek toe die allermooiste omgehekelde doek terug – met ʼn fraaie skulpiesrand – ʼn spoegdoek wat enige ouma met trots oor haar skouer sal kan gooi!

Miskien is hierdie begeerte en onmag bedoel om my nederig te hou…

Advertisements