004

Beste Knersus (kan nie sê “liewe” nie, want jy was mos maar altyd nog ietwat van ʼn teef),

Jou dae is nou getel, ou kat. Jy is 19 jaar oud en mens kan dit sien aan jou maer flanke; hoor aan jou wanhopige gemiaau saans, wanneer jy in die hoekie langs die badkamerdeur sit en die hulpeloosheid van die ouderdom uitskreeu; voel aan jou pynlike gesukkel om op my bed te kom – jy spring lankal nie meer nie, dis nou ʼn geriatriese geklouter.

Dit voel soos gister (ja, dis ʼn cliché omdat dit so waar is!) toe jou nooi se vriendin en haar mammie amptelik by my kom toestemming vra het om vir haar ʼn katjie as verjaarsdagpresent te gee. Natuurlik het ek ja gesê, al was daar reeds ander katte in die huis. Hulle het die Junk Mail gefynkam en jou gevind. Ag, jy was nie juis ʼn mooi katjie nie – ek onthou dat ek jou grootgewens het omdat ek gedink het jy sou dan mooier wees. Toe nou nie…

Een van jou nooi se vriende het na jou verwys as “…that burnt cat” – ʼn baie goeie beskrywing. Sedertdien het ek al weer sulke katte gesien, maar jy was die eerste in my verwysingsraamwerk: gemengde vlekkies gemmer en swart dwarsoor jou lyf, met ʼn skewe, onopvallende blertsie wit op jou borskas en die eienaardigste verdeling van gemmer en swart op jou gesig, amper soos ʼn harlekyn. Mooi geelgroen oë, maar ʼn persoonlikheid met al die minder vertederende eienskappe van ʼn kat en baie min van ʼn kat se sjarme.

 

Ek onthou hoe dikwels ek my vererg het vir jou gegrom as ek dit durf waag het om – op my eie bed! – rond te vroetel. Jy grom glad nie meer nie, sou dit die sagtheid van die ouderdom wees, of bloot omdat grom te veel energie verg? Ek moet sê jy het verstommend verdraagsaam geword – my eenjarige kleinseun het jy gister toegelaat om oopmond teen jou ou flank “whaa-whaa-whaa” te dreunsing. Ouma het egter baie vinnig daardie speletjie stopgesit.

In jou lang lewe het jy saam met my rondgeswerf van die een meenthuis na die ander. Moederskap het jou so ontstel dat my hartskat Skoonlief jou kleintjies moes skoonlek en oppas daardie eerste nag, omdat jy pad gevat het en eers die volgende dag druipstert teruggekom het. Toe jou nooi ver weg – so ver! – gaan werk, het ek jou maar noodwendig geërf.

Op die een of ander manier het jy in Laatlam en sy nooi se harte ingekruip, soveel so dat hulle gevra het of jy deel van hulle huishouding kon word – ek was maar te bly om jou te laat gaan. Hulle het jou op die hande gedra en allerhande grappe rondom jou persoonlikheid geweef. Drie maal het jy saam met hulle getrek. Uiteindelik beland ons toe weer saam, toe hulle vir my onderdak aanbied. Hier sit ons twee nou, “oud en der dagen sat”.

Jy’s gelukkig, ou kat, want as jou lewe nog moeiliker word, sal jy ʼn genadige inspuiting kan kry…

Advertisements