Dit reën, die perfekte voorbeeld van die Weerburo se beskrywing “sag en deurdringend”.

Ek kyk by die venster uit, kry ʼn vlietende beeld van die wit kat wat in die geel buiteligte van die kompleks soos ʼn skim om die hoek verdwyn. Later, weet ek, sal sy deur die oop venster spring en met haar warm lyfie – waarskynlik ook met nat pootjies – op haar gebruiklike pos langs my kom lê.

Sluip kaalvoet die trap af om te gaan troostee maak, trap in die hond se piepie op die kombuisvloer en vererg my gruwelik. Vee op en foeter die brak toe sy kom ondersoek instel. Skrik my besimpeld toe sy een harde tjank gee – het ons nou die res van die huis wakker gemaak? nee, alles bly gelukkig rustig…

WhatsApp my dogter in Amerika en hoor hoe gaan dit. Lees op fb oor regsprobleme met: huurders en verhuurders, pa’s wat nie wil/kan onderhoud betaal nie, toesig oor kinders en bittere stryd tussen ouers en grootouers, siekverlof en werk en afdankings. Besluit vir die hóéveelste keer om hierdie bladsy te verlaat, dit raas net te veel in my rustige afgetrede wêreld, en besef dan dat ek die morbiede gerusstelling van ander mense se probleme waarskynlik sou mis.

Sien Dirkie is ook wakker – sy het die mooiste video van wuiwende papawers gepos. Is dankbaar dat ek net slapeloos is, sonder pyn.

Gaan blogs toe en haal in op my lees.

Sit die rekenaar en die lig af, rol rond.

Staan op en kom skryf…

Advertisements