Sy was skaars twee jaartjies oud, toe kon sy al onderwater swem, so vinnig en glad soos ʼn robbetjie. Sy het nie geweet hoe om tydens die swemmery asem te haal nie, maar dit het haar nie gestuit nie, alhoewel dit haar ma angstig laat waak het.

Haar sterreteken is die Visse – vloeibaar en intuïtief; haar element is water; en al glo haar ma nie daarin nie, bly dit ʼn aangename speletjie. Een van haar geliefde tannie se interessante vriende het die dogtertjie een kyk gegee en tot die slotsom gekom: “A very old soul.”

Tot vervelens toe het mamma en dogtertjie gesit, toe sy so sewe, agt jaar oud was, aan’t teken: die een meermin na die ander. Ma het maar min tekentalent gehad, maar vir haar kind was die lang hare en die onmiskenbare stert genoeg. Hoe sou daardie ou dogtertjie tog nie vandag se wonderlike meerminpoppe en -speelgoed geniet het nie!

Ure het haar ma langs die skoolswembad deurgebring terwyl sy swemles kry; uiteindelik, bibberend en blou, soos ʼn amper-verdrinkte diertjie, na haar handdoek kom soek. Sy het die Kaapse kus leer ken, vreesloos van kranse afgespring en geleer hoe om die see se strome te trotseer.

Jare lank het sy die oseaan in groot toeristeskepe bevaar terwyl sy kinders oppas, haar verlustig in die turkoois Karibiese see en die donkerder golwe om ʼn Australiese eiland, saam met dolfyne en ander seegediertes gaan swem.

Uiteindelik het die liefde haar gevind, het sy en haar Amerikaanse verloofde van die skip afgeklim en hulle op vaste aarde gaan vestig om saam ʼn lewe te bou. Sy gaan nog duik wanneer sy die kans kry – een van die kersgeskenke waarmee haar man haar toegegooi het, was ʼn duikpak met pers detail.

Nog ʼn present was ʼn legkaart: aan die een kant ʼn onderwatertoneel met Ariel en haar prins wat aan die ander kant op die strand sit teen die agtergrond van ʼn sprokiespaleis. Hierdie geskenk het handig te pas gekom, want sy en haar ma kon dit sit en bou in die hospitaal, terwyl haar man herstel van ʼn noodoperasie en die dokters hom met bewondering bejeën vanweë die besonder slegte toestand waarin sy (nou verwyderde) galblaas was. Haar broer het droogweg gevra wat mens moes doen om vir so ʼn operasie in aanmerking te kom, want nou kon niemand meer op haar man se gal werk nie.

Haar huis het nou vir haar ma ʼn toevlug geword, soos haar ma se ouerhuis in haar jongdae. Haar dogter se sagte liefde en rustige samesyn help om die ouderdom te besweer.

In die sitkamer lê twee opgevoude kniekombersies: die een gehekel, die ander van sagte materiaal. Wanneer mens dit oopvou, sien jy verras dat albei soos meerminsterte lyk…

Advertisements