Die vorige keer toe ek by my kinders in Pennsylvania gekuier het, was daar sneeu in oorvloed. Dié keer was daar net twee ligte sneeuvalle. Die eerste een het ek rustig by my laat verbygaan – daar gaan mos nog baie kans wees om die sneeuman te bou wat ek aan my Suid-Afrikaanse kleindogtertjie Gabby belowe het. Toe skyn die son en dit reën net so af en toe en dis nie koud genoeg vir sneeu nie, al lê die vorige hopies weggeskraapte, vasgeyste sneeu sonder om te smelt; iets wat hierdie Suid-Afrikaner met haar kennis van die hittige Afrika-son glad nie kan kleinkry nie.

Die dae stap aan, die tyd word min en toe dit weer ligweg sneeu, storm ouma vol goeie voornemens by die deur uit, sneeugraaf in die hand en mus oor die ore. Eers skraap ek die “deck” skoon, want die gewig van die sneeu is nie goed vir die houtkonstruksie nie. (So ʼn mooi houtstoep, op twee vlakke, met die groot ronde swembad daaronder, nou met ʼn seil toegemaak met ʼn ronde poel ys in die middel.) My dierbare skoonseun lê in die bed, besig om te herstel van ʼn noodoperasie (galblaasverwydering, twee dae voor Kersfees). My dogter is by die fisioterapeut met ʼn verstuite knie-ligament, maar toemaar, ma sal vandag in hierdie huishouding haar sout verdien en die sneeu wegwerk voordat dit kan vasvries. Ek het my kind se “snow pants” aan, ʼn dubbeldikke sneeubaadjie, dik handskoene – beweging is stadig en moeisaam. Agter my het die deur toegeklap en ek is uitgesluit, maar ek’s nie benoud nie: as dit moet, sal ek my seun gaan opklop; so nie, wag ek vir my dogter om tuis te kom.

Hoe lekker lig is die plastiekgraaf…mens stoot hom so voor jou oor die oprit uit en met ʼn swierige draai gaan hoop jy die sneeu aan die kant van die pad op. Vars sneeu is ʼn wonderlike medium, pletbaar en sag van tekstuur. Ek vorder fluks…maar die oprit is heelwat groter as wat dit lyk. Die dekselse sneeubroek is te groot vir my en ek moet elke dan en wan die ding ophys – hoop nie die bure hou my manewales dop nie. Die sneeu raak al hoe swaarder in die graaf – dalk is dit omdat dit begin smelt, of vries, of wat ook al… O toggie, nou moet ek nog my seun se motor skoonvee – die sneeuskraper is weg, ek moet ʼn besem gebruik. Waar’s my verstand? Ek moes dit mos gedoen het voordat ek die sneeu weggewerk het! Nou’s dit dubbele werk…

Oukei, soja, wat nou nie gedoen is nie, bly ongedaan – daar’s ʼn sneeuman wat gebou moet word! In die tuinpaadjie versamel ek genoeg sneeu vir die onderste deel en wens my skoonseun kon kom help het, hy kan ʼn meesterlike sneeubal rol, al hoe groter en groter, totdat dit ʼn pragtige ronde voetstuk vir die sneeuman vorm. Hierdie amateur kry darem so ʼn skewe hopie bymekaar – en sien dan tot haar innige verligting dat skoonseun in die sitkamer kom sit het om ietsie te eet. Die uitputting sak op my toe en ek gaan klop aan om binnegelaat te word, newwermaaind die sneeuman.

Ek strompel kamer toe, stroop die sneeuklere af en gaan lê op die bed – om eers 24 uur later weer soos ʼn mens te voel en op te staan. Intussen dra my arme dogter hinkepink tee en roosterbroodjies aan – nou het sy twee invalides in die huis.

ʼn Dag later val dit my by van die sneeuman. Die hopie ys is genadiglik op so ʼn manier deur die klimaat bewimpel dat dit nou duidelike arms en ʼn vae kop het! Ek het nog nie die foto vir Gabby gewys nie, maar met haar kinderlike vertroue en ryk verbeelding skat ek dat sy dit wel as sneeuman sal aanvaar. Ouma se geloofwaardigheid is behoue.

# Wees versigtig met wat jy aan kindertjies belowe.

# Sneeu is niemand se maat nie.

# The old grey mare, she ain’t what she used to be…

046

Advertisements