ʼn Doopsondag roer altyd hierdie ouma se hartsnare: die ernstige formulier, die gespanne ouers, die formele uitspreek van die kindjie se naam, die pragtige ou babatjies. Gelukkig is daar altyd ʼn komiese element ook, wat my help om nie sommer in die onbeholpe sensitiwiteit van die ouderdom in trane uit te bars net omdat die hele seremonie vir my so vreeslik mooi is nie.

Vandag was weer so. Die babadogtertjies is opgetooi met die fraaiste kopbandjies (ʼn mode wat sekerlik vir predikante moet laat voel asof hulle aan ʼn hinderniswedren deelneem, maar watwou – hulle navigeer die struikelblokkies heel behendig). Met sy “sense of occasion” en lieflike deernis doop ons predikant vyf kleintjies. Die jongste babatjie skrik toe hy die koue druppels water op sy voorkoppie voel. Die peutertjie sit doodstil en wys met sy mollige voorvingertjie na die water – ʼn omgekeerde weerspieëling van die tafereel tussen God en Adam in die Sistynse Kapel. Ná die druppels water is daar ʼn effense pouse, terwyl die predikant sy hand in seën oor die klein voorkoppie uitgestrek hou. Nie een baba huil nie en ek is namens die ouers dankbaar, al het  ons geliefde voormalige herder wat verlede jaar oorlede is, gesê dis die kindertjies se manier om die Here te prys.

Die gesin wat my hart gesteel het, het skuins voor my gesit. Toe die ouers voor moet gaan staan, weet Boetie (ek skat hom so twee jaar oud) nie mooi wat om nou te doen nie. Hy gryp sy yslike opgestopte Mickey Mouse en gaan staan in reddelose stilte in die middel van die gang totdat sy pappa terugdraai, hom kom optel en saamvat vorentoe. Alle eer aan daardie pa! Dis nie enigeen wat ʼn doopseremonie met grasie kan deurmaak terwyl jy jou ouer kindjie met sy yslike Walt Disney-karakter op jou arm dra nie. En waarom sou Mickey Mouse nie ʼn draai by die doopvont kon maak nie? Hy verteenwoordig geslagte-lange positiewe stories en die geleentheid vir derduisende kunstenaars om aan hulle kreatiwiteit uiting te gee. Vanoggend was hy ʼn anker vir ʼn klein seuntjie wat nou sy wêreld met ʼn nuweling moet deel en kon hierdie seuntjie danksy sy pappa se sterk en liefdevolle arm ʼn vriendelike, genadige kerk beleef.

Advertisements