Gistermiddag het ek al die hond se modderrosies van die vloer afgespons en myself vrolik opgetooi. Ek het ʼn vriendin se uitnodiging om saam na die Atterbury-teater te gaan, bedank en vir haar beduie dat my kinders na ʼn week se seevakansie op pad huis toe is – en ek wil hier wees as hulle aankom.

Op die familie-Whatsapp volg ek sedert Saterdagoggend hulle vordering met die langpad saam – Saterdagaand toe hulle halfpad oorslaap, huil klein Gabby (oor ʼn week of twee is sy drie jaartjies oud) bitterlik, want sy het gedink sy gaan vanaand by hulle huis, by ouma, slaap. (Watter kosbare skoondogter het ek tog, dat sy onbeskroomd hierdie wonderlike nuus aan haar skoonma oordra!) Einste skoondogter laat weet uiteindelik hulle is amper tuis – stop net gou by die Superette. Ek laat weet terug: “Garagedeur lankal oopgemaak :smile:”

As onsekere jongmens het ek agtergekom mens moenie jouself aan kindertjies opdring nie – as jy afsydig dog toeganklik optree, kom hulle uit hulle eie na jou toe wanneer dit hulle pas. As liefhebbende ouma vergeet ek summier my eie lewensreël! Gabby gee my ʼn afsydige, pligplegende drukkie en Joshi (sewe maande) se gesiggie lyk soos die emoji met die hartseer mondjie toe hy hierdie vreemde, grinnikende vrou op hom sien afpyl. Later bons hy darem ewe tevrede met sy maer beentjies op ouma se sagte maag en Gabby kom bewonder my stringetjie koraalkrale: “Oh, you look bee-oo-ti-ful,” adem sy. (Met dié dat die kindjie net oorsese strokiesprente sien, is Engels haar language of choice wanneer sy iets moois of interessants sien. Dankietog dis hoofsaaklik Britse Engels…maar dié ding kan dalk ʼn klagte-blog vir anderdag word…)

Die vloer is gou-gou so vol goed wat Laatlam van die kar afpak dat Muis se voetspoortjies nie eens opgemerk sou word nie. Die TV blêr luidkeels terwyl Gabby haar poppe met regte water in die middel van die vloer bad. Joshi het ʼn nuwe manier van kraai: so ʼn skel, volgehoue noot, min of meer so lank soos ʼn houtkapper se roep, maar heelwat minder musikaal. Laatlam se skoonfamilie kom groet, die huis popel van lewe en liefde.

Negeuur slaat ouma uitgeput op haar bed neer en wonder hoekom die lewe alewig óf te veel, óf te min is.

019

Advertisements