Op haar blog “Dis Ekke” aanvaar Hester die jongste “Discover”-uitdaging en die gevolg is ‘n heerlike inskrywing, tesame met ‘n baie goeie vertaling van “radical authenticity”, naamlik “fundamentele egtheid”. Ag nouja, kom ek vertel julle van my week tot dusver, op ‘n fundamenteel egte manier.

Vroegoggend Saterdag kom sê die liewe kindjie my: “Ouma, ons gaan op ‘n ‘ad-ven-ture’ – ons gaan see toe!” Ek gee haar ‘n drukkie, draai om en slaap verder – dis immers nou eers vyfuur en die kinders gaan niks hê aan ‘n slaperige gewuif van my af nie. Trouens, Laatlam het heel dikwels die afgelope ruk beklemtoon dat hy bly is oor die kans om ‘n bietjie sy gesin vir homself te hê…

Lange jare gelede het my mammie lekker gelag vir ‘n ou grappie waarin die oupa vir ‘n buitestander oor ‘n uitstappie dorp toe vra: “Het jy gehoor of ek saamgaan?” Hmm, ja, die Engelse sê nie verniet “Many a truth is spoken in jest” nie. Nou nie dat ek juis wou saamgaan nie – ons het almal ‘n verposinkie van mekaar nodig.

Saterdag het heel goed verloop: ek het ‘n klomp koekies gebak vir Sondagoggend se tee na kerk en moeg gaan slaap.

Sondag was lekker: die koekies het byval gevind en my liewe vriendin M (die een wat so mooi na die straatkatte omsien) het my rojaal in haar gesellige kombuis onthaal: die mooiste laslappietafeldoek, servette met katportrette op, vier soorte slaai saam met lasagne gevolg deur drie soorte nagereg!

Ek en die hond Muis is vandeesweek besig om mekaar beter te leer ken tydens ons skemeraandstappies (net jammer van die bohaai wanneer die honde agter hekke moord en doodslag belowe en Muis se rifrug so bosserig staan terwyl sy met haar eie geskel antwoord). Mens se waardigheid kry ‘n ernstige knou as jy ‘n ongeleerde, skreeulelike hond met ‘n twyfelagtige naam probeer bedwing.

Maandag het ek bietjie by die kerk gaan werk en toe tuis kom vryskutwerk doen, waarmee ek vandag ook besig is, so tussen die bloggery en fb deur.

Op fb het haar mamma ‘n video van my kleindogtertjie Gabby geplaas waar sy teen die agtergrond van ‘n helderblou see staan en seepborreltjies blaas. Ek het daardie video nou seker al vyf keer gekyk. Dis teen ‘n stadige tempo, sodat mens die tuitbekkie wat die borrels blaas en die vreugde op haar gesiggie wanneer sy weer ‘n borreltjie raakvang duidelik kan sien. Soveel verwondering op daardie dierbare gesiggie – die wonder van kindwees, volmaak vasgevang.

Die rus, vrede en vryheid van hierdie week is baie welkom. Maar ai, die huis is vreeslik stil…

Advertisements