ʼn Kommentaar deur Perdebytjie dryf my om hier te skryf. Lewenslank het ek die toutrekkery tussen beroepsvrou en huisvrou gesien en telkens het die beroepsvrou gewen. Sy smaak die tevredenheid van selfverwesenliking en die aansien van ʼn salaris. Vandag wil ek probeer om ʼn lansie vir die huisvrou te breek, want ek sien hoe hulle hulself onderskat!

Liewe buurvrou wat self smiddae jou kinders by die skool kom oplaai het, dankie dat jy myne ook in jou kar gelaai het. Dankie vir die vervoer na en van musieklesse, toe jou seun en myne ʼn duet moes speel en die enigste beskikbare oefentyd tweeuur in die middag was. Middelkind sou kwalik per fiets met sy tuba by die les kon uitkom.

Dankie vir jou oop deur en verwelkomende glimlag smiddae, wanneer my dogter op hoërskool eensaam en verveeld was. Ja, sy het my vertel van die lekker skons en appelkooskonfyt…

Hoeveel broodjies het jy nie vir die snoepie gesmeer en verkoop nie!

Jy was ʼn wonderlike Voortrekker-offisier, soveel so, dat my liewe dogter Presidentsverkenner gemaak het – hoe trots was ek nie en hoe nederig dankbaar teenoor jou vir jare se dáárwees. Ek sien jou nou nog, omring deur tien woelige dogtertjies, besig om hulle sinvol besig te hou en lewensvaardighede te leer.

Daardie vreeslike tyd toe al drie ons kinders siek was en nóg ek, nóg hulle pa verlof kon neem, was jy vir my soos ʼn rots. Dankie dat jy elke dag oor die straat gedraf en kom kyk het hoe dit met hulle gaan, dankie vir jou gerusstellende oproepe om my te verseker hulle is oukei.

Jy, kosbare mevrou Huisvrou, is die sement wat ons samelewing in die voorstede aanmekaarhou. Jy is suurdeeg en sout vir die wêreld. Moet dit asseblief nooit ooit vergeet nie!

Advertisements