Scrapydo het ons genooi om vir oulaas iets vir Toeka-Tokkel te skryf, oor die onderwerp “hande”. Scrapy en haar sus Tina van Rondomtaliedraai verryk my blogervaring gereeld met hulle interessante inskrywings en gulhartige kommentaar. Ek gaan Toeka-Tokkel en al julle ander se bydraes mis!

By die gedagte aan hande, spring twee beelde voor my geestesoog op:

My skoonma, met ʼn hand vol beskuitdeeg wat sy na my toe uithou om te wys hoe mooi die tekstuur is. Haar vingers is slank, met goedgevormde naels, en die tekstuur van die deeg is onverbeterlik. Haar blou oë kyk vol vreugde en voldoening na my, want sy weet hoe ek haar kundigheid in die kombuis bewonder. “Full many a flower is born to blush unseen…” Ek was lief vir haar.

My mammie, op die groen leunstoel met ʼn kleutertjie aan weerskante van haar: Middelkind links en my dogter regs. Wat op aarde maak hulle? Elke kleinding het ʼn oumahand op die skoot in ʼn stewige greep, terwyl hulle een van die opgehewe are op die rugkant platdruk – en laat los; platdruk – en laat los: ʼn wonderlike speletjie om te kyk hoe herstel die are en sommer ʼn verskoning om styf teen ouma te sit in heerlike gemeensaamheid. Sy kyk op na my, so half verleë dat ek hulle betrap het… Ek was lief vir haar.

Advertisements