Baie lange jare gelede het ek my ouers op Jan Smuts Lughawe gegroet en op ʼn reis vertrek wat die meeste Wes-Europese lande sou insluit; so vyf, ses of tien dae in elke groot stad. Met die oormoed van die jeug het ek die ekspedisie sielsalleen aangepak, wat nogal eensaam sou wees, maar wat my ook sou dwing om meer direk met vreemdelinge om te gaan. My eerste bestemming was Madrid, in hulle laatsomer.

Watter wonderlike ervaring! Daar was ou vroutjies in swart geklee wat netsowel uit een van Lorca se dramas sou kon ontsnap het. Die flamenco het my laatnag begeesterd met ʼn rooi angelier in die hand na my hotel laat terugkeer. Op die stadspleine het ou omies ʼn tipe rolbal/sokker gespeel en ek het by ʼn waentjie roomys gekoop wat die venter vir my van ʼn groter blok afgesny en dan met ‘n wafelbeskuitjie aan elke kant afgerond en in ʼn waspapiertjie vir my aangegee het. Ek het ʼn taksibestuurder in hortende Spaans ingelig dat hy dom was in plaas daarvan om hom te vertel dat ék dom was, wat eintlik my bedoeling was – die arme man was hoogs verontwaardig… Ek het deur die Prado gedwaal en Goya se rou uitbeelding van oorlog gesien. In Toledo in die katedraal het ek sit en ween oor die groot skildery van ʼn edelman se begrafnis deur El Greco.

Op die middag van die sesde dag sou ek na Londen vertrek – daar was nog tyd om gou die oggend die graf van Goya te besoek. Die sarkofaag was naby die hotel, ʼn eenvoudige ronde ruimte vanwaar mens op die graf kon afkyk, met die besige stadsverkeer wat daarbuite raas. Terwyl ek daar staan, raak ek bewus van ʼn teenwoordigheid – ʼn warme toegeneentheid, maar daar is niemand anders daar nie. “Ek salueer u,” prewel ek – onder die valse indruk dat ek met Goya praat.

Toe ek laatmiddag in Londen aankom, wag ʼn ambassadelid my in met die verskriklike nuus dat my pa die vorige aand aan ʼn hartaanval beswyk het. Ek knip my toer kort en keer die volgende dag na Suid-Afrika terug.

Ek is vas oortuig dat my pappa se gees by Goya se graf van my kom afskeid neem het.

Advertisements