Sy sit plat op die vloer voor haar kindjie se wiegstoeltjie, haar hele wese op die seuntjie toegespits. “Hoe rooier, hoe mooier!” koer sy vir hom en hy lag so uit sy magie uit. Sy kyk op: “Weet Ma, hy hou so van klanke en woorde – miskien word hy eendag ʼn digter!”

Wanneer ek sien hoeveel sorg, energie, liefde, moeite en angs in die grootmaak van ʼn enkele kindjie ingaan, staan ek heeltemal oorstelp.

Klein Joshi was gister ʼn volle ses maandjies oud. Vandag begin hy met vaste kos – maar o wee, dis heel anders as die sagte pappies en vruggies van ʼn geslag gelede! Hy gaan ʼn keuse kry van skyfies avokado en geroosterde stukkies patat en rooi soetrissie. Sy sussie het ook hierdie regimen van oorskakeling na vaste kos gevolg en ouma se senuwees was gedaan. Ouma besef nou net sy het vergeet wat Jan van Elfen sê oor verstik – wag, dat ek eers weer gaan naslaan…

Ouma is toe amptelik genooi om die eerste ete mee te maak. Joshi het uitgeslaan van die avo, traag aan die mediterreense soetrissie gelek en ‘n groot stuk patat afgeknaag wat hy toe saam met ‘n mondvol melk uitgespoeg het. Sou dit makliker wees om hom lepelsvol sagte kossies in te gee? Vir seker! Maar sy sussie het met hierdie metode van meet af aan self geëet terwyl haar portuur nog gevoer moes word. Ouma moet maar haar senuwees hokslaan!

Advertisements