My liewe Boetie

Klein Joshua (vyf maandjies oud) sing soms vir homself ʼn slaapliedjie voordat hy indommel en dit laat my verskriklik na jou verlang. Dis omdat ek kan onthou hoedat ons mammie eendag vir my (jaloerse sewejarige) genooi het om te luister hoe jy jouself aan die slaap sing…

In 2011 het ek oor jou geblog, toe julle weg is uit Suid-Afrika. Dit was so wonderlik om laas Desember daar in Nieu-Seeland by julle te kon kuier. Die drukkie wat jou tienerseun my elke oggend kom gee het, voordat hy weer in sy kamer verdwyn, het my hart verbly. In jou dogter het ek ʼn kind ontdek wat die ouderdom van redelikheid bereik het – hoe lekker het ons twee gaan stap en gekuier en eende gevoer! Sy het jou diep, amper mistieke rapport met diere geërf en dit was vir my kosbaar om te sien. Ek en jou vrou kon die drade moeiteloos optel en ons rustig in mekaar se geselskap koester. Jy het uitstappies gereël en my soveel moontlik van jou nuwe vaderland gewys. Ek onthou hoe ons op ʼn strand onder die houtgeraamte van ʼn boom gesit het en jou terloopse opmerking: “Om huise van hierdie stapels dryfhout te bou, was ʼn gunstelingtydverdryf vir die kinders toe ons net hier aangekom het.” Hoe moeilik moes daardie eerste aanpassing vir jou/julle gewees het, in ‘n wildvreemde land sonder enigiemand om die kinders ʼn rukkie op te pas sodat ma en pa net weer hulleself kan hoor dink…

Hoe gaan dit met jou? Julle het albei ʼn goeie werk gekry, die kinders is gelukkig, julle woon ʼn kort stappie van die see af – maar hoe gaan dit regtig met jou? Ek vra, want jy het nooit my e-pos beantwoord nie. Ja, ja, Ousus weet: jy wou vir my ʼn lêkker laang geselsbrief skryf en toe kry jy nie tyd daarvoor nie en – van uitstel kom afstel… Ag, ek verstaan dit so goed, maar ai, ek verlang…

Advertisements