Dogter en Middelkind was nog kleutertjies, toe nooi my broer ons om saam die Olifantsroete in die Krugerwildtuin te gaan stap. My man het voet neergesit: “Ek het genoeg in die weermag gestap!” maar ek wou graag saamgaan. Manlief en kinders is toe na skoonsus se Bosveldplaas toe en die uwe het saam met broer, sy vroutjie en twee vriendinne die pad Wildtuin toe gevat.

Fiks was ek nou nie juis nie, maar ek het gedink die daaglikse eise wat kleuters aan ʼn mens se stamina stel, was genoeg voorbereiding op ʼn ou staptoggie… Ha! Groot fout…groot, grooot fout… Eers laterjare het ek agtergekom dat wanneer ʼn stapper mens nooi om “ʼn entjie” te gaan stap en jou belowe dat hulle “stadig” sal stap, daardie “entjie” en “stadig” twee totaal ander begrippe in die stapper se kop is as in jou eie.

Opgewonde betrag ek die landskap deur die motorvenster en kan nie wag om as’t ware in die veld in te duik nie. Die aand om die vuur is betowerend. Vroegoggend pak ons ons rugsakkies met die aanbevole versnaperings en daar gaat ons!

Die veldwagter het duidelik nie lus vir die hoeveelste groepie stadsjapies nie. Hy gooi sy geweer oor sy skouer en begin met sulke lang, seningrige treë aanstryk. Hy praat nie veel nie – van my drome van rustig bome en blare en misbolle ondersoek, kom niks tereg nie. Oor berge en dale stowe ons voort en my asem raak al hoe minder. Toe hy uiteindelik ʼn blaaskansie aankondig, net om hopeloos te gou weer ons almal op te jaag, besef ek: vandag het ek moeilikheid. My gô is klaar uit en as ek nie byhou nie, los hierdie suurknol my sweerlik vandag net hier in die ruie veld, uitgelewer aan die wilde diere!

Daardie angs maak dat ek my “pose” hou en byhou, maar die uitputting kom sit tussen my blaaie en my voete raak al hoe swaarder. Daar’s gʼn niks wild in die veld nie – hulle hoor my naderende gestommel seker al van ver af en sit ons van agter polle en klippe en dophou. Teen twaalfuur is daar weer ʼn ruskansie en groot opgewondenheid oor ons enigste wilde dier van die oggend – ʼn buffel doer ver in ʼn droë lopie. My broer het ʼn foto van die okkasie, waar ek geboë op ʼn klip sit met my rug op die buffel-in-die-verte gekeer: ek was eenvoudig te moeg om om te draai en na die dier te kyk…

Die veldwagter maak ons daardie oggend 12 kilometer ver loop. Terug in die kamp stort ek in duie en slaap soos ʼn dooie. Elke dan en wan kom doen ʼn besorgde navraag oor my algemene welstand – maar hulle blaas gou weer die aftog, want enigeen kan sien dit gaan net nie goed nie. Genadiglik begin dit die aand reën en kan ek die nattigheid die daaropvolgende dae as verskoning gebruik waarom ek dan nie saam op die staptogte gaan nie. Dis maar ʼn flou verskoning, maar ewe taktvol aanvaar die groepie dit. (Hulle kan mos ook sien hoe sleep ek myself voort, want al wat spier en lit is, pyn…)

Ek bly dus in die kamp, kyk en luister na die voëltjies, leer my gedigte en prosa vir ʼn voordragprogram waaraan ek werk, ruik die wonderlike geure wat die kampkok oor sy oop vuur optower en verwelkom elke dag al hoe varser en vroliker die vaalgestapte groepie by hulle terugkoms.

ʼn Mens moet jou beperkinge ken. Hoe kon ek ooit dink dat die skoolkind wat reeds in die eerste atletiek-uitdun van die seisoen heel, heel laaste gekom het, as volwassene sonder enige voorbereiding in die Wildtuin op safari sou kon gaan?

Advertisements