Wanneer ‘n mens se hare die kleur van ryp is, kan jy seker met veiligheid konstateer dat jy nou in die winter van jou lewe is. My liewe dogter beweer egter dit lyk soos silwer – ʼn stelling wat my baie help om in volslae ontkenning van die ouderdom te leef, want ek weet dat silwer vir haar mooi is.

Hoe ontken en bekamp ek dus die winter? Deur warmte:

Die warmte van die gemeente waaraan ek behoort, waar ek my weeklikse porsie liefde vir en van God en my naaste kan gee en ontvang.

Die warmte van vriendskap, van ou, beleë vriendskappe en nuwe vriendskappe met nuut-ontdekte sielsgenote. Om met vriende te kuier, is soos om met jou bevrore ledemate in die wintersonnetjie te gaan staan en ontdooi.

Die warmte van herinneringe aan magiese winters: my eerste belewenis van sneeu en skitterende yskristalle daar ver in Pennsylvania; wonderlike wintersdae in Jerusalem; goue lemoene in ʼn Sederbergse boord afgepluk en net daar geëet. Om so ʼn lemoen te eet, is soos om sonskyn te proe.

Die warmte van my kosbare kleinkinders: Kindskinders is ʼn kroon vir grysaards.

Advertisements