Toe Laatlam die selfoonfoto’s wys van ons nuwe blyplek, het ek gewonder wat hom besiel om dit te wil huur: 40 meter van die meenthuisie se vensters af stroom die Atterbury-verkeer heen en weer verby – vier bane vol motors, vragmotors, bromponies, motorfietse, bakkies, busse, taxi’s en so dan en wan ʼn loeiende ambulans. Sy argument dat die verkeer hom rustig stem, werk nie vir my en sy babaseuntjie nie – ons moet ons behelp met ʼn selfoontoep wat kliphard seegeruis speel en so die geraas daarbuite teenwerk.

Ons luister ook CD’s – Joshi verkies vrouestemme en hy hou baie van Edith Piaf, die Mossie van Parys wat so hartroerend oor daardie stad se strate sing. Nog ʼn gunsteling is Koos du Plessis wat sy eie liedjies sing. Lank voordat ek hier midde-in die stadsgeroesemoes beland het, het Sprokie vir ʼn stadskind my verbeelding reeds aangegryp:

As die reën van stof en roet verby is en die rook verdwyn, sal daar in die sterrelose hemel ʼn neonboog verskyn…Volg hom elke nag oor swart riviere, oor kranse van beton; as jy aanhou soek, tienduisend ure, sal jy dalk daar kom…

My pa het op ʼn plaas grootgeword; my mammie op ʼn kleinhoewe. Ekself het heerlik op ʼn groot dorpserf baljaar en my knuppeldik geëet aan die vrugte uit my pa se boord. My kinders het op ʼn voorstedelike erf met ʼn eie swembad gespeel. Nou woon my kleinkinders in ʼn meenthuis met ʼn posseëlgrootte tuintjie…

Die gedagte dat die grond onder die stad se teerpaaie en sementsypaadjies en plaveisels versmoor, spook al baie jare by my. Dankietog vir hierdie tuintjie, waar ʼn suurlemoenboom vanjaar ʼn triomfantelike drag vrugte gelewer het.

Volg hom elke nag oor swart riviere, kyk nie eenmaal om. Dalk vind jy die land van blou saffiere, en dalk – ʼn brokkie son.

 

 

Advertisements