Sleutelwoorde
Die klein wysvingertjie vee en tik rats oor die slimfoonskerm terwyl die reuse-TV ʼn kinderreeks uitbasuin. Soms sit sy met selfvertroue voor my rekenaar en stop sommer die video as sy moeg is daarvoor. Sy is net twee jaar en amper agt maandjies oud, maar die digitale wêreld hou vir haar geen huiwering in nie. Ouma sien uit na die dag wanneer sy van konsultant sal kan verander, want haar huidige een is nie lank- en sagmoedig genoeg nie…
My mammie het soms gesê dat haar geslag geweldig baie veranderings beleef het, maar ek dink myne oortref dit. Ons het nog lesings met die hand afgeskryf. Eksamentyd het die wit blaaie in jou notaboek verwytend herinner aan jou versuim om lesings wat gebunk is in te haal, want jy was te lui vir al daai skryfwerk en daar was nog nie soiets soos ʼn fotokopieerder nie.
Toe ek huis toe is om kinders groot te maak, was die rekenaar in die biblioteek die enigste een op die kampus. Terug in ʼn werksomgewing, agt jaar later, het jong kollegas gekla dat hulle ʼn eie rekenaar nodig het; nog ʼn paar jaar later het elkeen ʼn rekenaarskerm op sy lessenaar gehad, met die groot blikbreinkas netjies onder die tafel geberg. As ons naweke wou werk, het ons met inspanning so ʼn kas kar toe gedra en Maandagoggend weer teruggedra. Die rekenaarafdeling het kursusse aangebied en ons is in die wondere van e-pos en sagte kopie ingelyf. Uiteindelik het elkeen ʼn skootrekenaar gehad, waarmee mens op ʼn vliegtuig kon klim en die hele land vol kon reis.
Die uwe is in ʼn mate gedigitaliseer, maar nie ten volle nie. Van my tydgenote verkies nog pen en papier as hulle wil skryf; ek verkies die rekenaar. Van my tydgenote sit egter ewe byderwets met ʼn elektroniese boekleser in die hand, terwyl ek nog ʼn papierboek verkies. (Dit kan natuurlik ook wees as gevolg van die feit dat die kinders nie my geskenkskimpe vang nie…) Ek het maar onlangs eers die basiese waarhede van Facebook onder die knie gekry, terwyl Twitter en Instagram vir my ʼn geslote boek is (by wyse van spreke).
Stadig maar seker kom ek agter dat webwerwe geduldig is en mens nie sommer afgooi as jy nie on-mid-del-lik op hulle aanwysings reageer nie. Maar o, allawêreld, die een ding waarmee ek ʼn stryd het, is wagwoorde en gebruikersname… Dan skrabbel ek in my laai om die voosgevatte notaboekie op te diep en slaak ek ʼn sug van verligting oor die betroubaarheid van papier…
Ek probeer ook byhou,maar die wagwoorde kry my ook onder.Oulik geskryf,Frannie!
Jy’s reg – ons geslag het ver gekom. Ek onthou nog die ou rekenaars, so groot soos mikrogolfoonde, wat ons destyds in die bank gehad het: die ou skermpies was piepklein en groen. Ons praat vandag nog van groen skerms wanneer ons verwys na die DOS applikasie. My eerste selfoon was so groot soos ‘n halwe baksteen. Frannie, met jou e-leser kan jy doen baie meer doen as om boeke te lees, dis regtig waarde vir jou geld – SKIMP HARDER!
Ek is nie slim met die rekenaars nie, kan net die allernodigste doen, maar dit is goed genoeg vir my. Toevallig ‘n stuk van ‘n program gekyk oor hoe skadelik teveel komperbedrywighede kinders kan strem. matigheid bly maar die wagwoord ne!
Die jongklomp laat my stom in verwondering
Ek is absoluut tegnologies geremd. Ek klou soos ‘n neet aan my pienkberrie 9720. Ek kon al maande gelede opgradeer maar hulle se mos hulle faseer die knoppies fone uit. toe het ek gese tensy hulle nie knoppies foon het nie, sal ek maar kontrak stop en by pep lugtyd koop.
Ek klou ook aan my knoppies-bessie!
Lekker lag ek by myself as ek dink aan daardie armpie tikmasjiene waarmee ons begin het. Die armpie kom op “a” sak terug op sy plek, die volgende armpie kom op “s” sak terug op sy plek…. en so tik jy brief na brief, op deurslag papier. Ag toggie ons kom sowaar uit Noag se tyd.
Ha ha nou lag ek eers vir Kameel! Eerste wat ek gekoop het toe ek begin skoolhou was n tikmasjien sodat ek my voorbereiding kon tik! Die tegnologie het darem maar verskriklik ontwikkel. Dis amper angswekkend as mens so terug dink. Die passwords en name is hier by myook in n blou boekie geskryf. Baie bestaan nie meer nie maar eendag, sal jy sien, het mens weer een of ander woord nodig. Die rekenaar vegeet nie sommer jou naam of aansluiting by plekke nie. Baie dankie vir jou pittige beskrywing van verandering.
Terug pieng: Toeka-Tokkel no 22: Straf – I scrap 2
Op laerskool het ek ‘n absolute romantiese persepsie van skryf gehad – dat dit met ‘n tikmasjien gedoen moet word. Ek het my laerskoolself oortuig as ek ‘n tikmasjien gehad het het ek al lankal ‘n boek geskryf!! Wel ek het nou ‘n sleutelbord en ten minste blog ek nou aktief!
Daai laaste sinnetjie sê dit alles. Die betroubaarheid van papier …
So baie lekker gelees en kan myself ook so goed indink en vereenselwig met alles wat jy hier noem!