Youth is the most precious thing in life; it is too bad it has to be wasted on young folks – George Bernard Shaw
Vanaand lees ek Tina se repliek op my antwoorde op haar “Vyf vrae” – sy noem die Breytenbach-teater en dis asof ek terug is in my ou vooroorlogse woonstelletjie in Sunnyside (vir julle jonges: dit verwys nou na die Tweede Wêreldoorlog, dus was die plek reeds heerlik oud en deurwinterd toe ek as jong vrou daar gewoon het).
Dit is ʼn eenverdiepinggeboutjie met agt woonstelle: vier bo, vier onder. Ek klim met die breë rooi sementtrap boontoe na waar ek en my drie strepieskatte woon. Daar is ʼn ingangsportaal waaruit deure na links en na regs tot die badkamer (met ʼn bal-en-klou-bad!) en die kombuis toegang gee. Die stofie is ʼn liggroen emalje-affêretjie, waarvan die oonddeur met ʼn handvatsel toeknip. Die wasbak is ʼn heerlike groot granietblok, sodat ek skottelgoed kan ophoop totdat my broer weer as hy kom kuier, uit pure lojaliteit die hele spulletjie vir my was. In die yskas is daar melk, dalk galsterige botter (my arme boetie het juis eendag amper voedselvergiftiging opgedoen), verskeie botteltjies naellak (dit laat die politoer langer hou) en katkos.
Die slaapkamer is heerlik groot, met plek vir die lessenaar waar ek oor my werk sit en wroeg. Die sitkamer het ʼn oop balkonnetjie en daar is ʼn reuse-palmboom waarin ʼn kolonie kransduiwe woon. Skemertyd leun ek oor die lae muurtjie en luister na die gekoer en geritsel soos die duiwe vir hulle nagrus regmaak, terwyl die rooi son agter die palmtakke wegsink. Snags drie-uur kan ek die leeus in die dieretuin hoor brul, ʼn towerklank wat oor die stil stad eggo.
Dis ʼn tyd van storm en drang, van wanhoop en plesier. Ek nooi my vriende na ʼn kerslig-fondue op ʼn Saterdagaand: ons sit op die breëplankvloer en die mat doen diens as tafel. Teen die einde van die aand struikel A oor die ry vol likeurglasies en dis vir ons verskriklik snaaks…
Iewers in die papiere wat ek met my saamsleep, ontdek ek ʼn kaartjie uit daardie tyd, geskryf deur my hartsvriendin wat nou in die Boland woon en na wie ek vandag heeldag verlang het:
Vir die wierook en die mirre van Samoshof nr 5
Herinner my aan die losieshuis in Pretoruisstraat 826 waar ek ‘n kamer moes deel met drie ander waarvan net een ‘n mede student. Toe ek vir Haar leer ken het en weer verloor het. En later weer gevind het en wéér verloor het …
Sulke intense tye – vertel daarvan, toe?
https://vuurklip.wordpress.com/2014/05/24/gister-2/
Dit. is. so. mooi.
Sê ek ook
Ook daar gaan lees…pragtig!
Ja, ek wou dit nou nie kliphard sê nie, maar ek is so kloustrofobies dat ek dit nooit daar in sal waag nie. (Ek was die enigste Voortrekkertjie wat buite wag gestaan het toe my groep die Kango-grotte besoek het). Dis hoekom ek so bly is as ek kan deel in ander se fotos en verhale.
Klink asof julle baie pret gehad het. Ek het ook in Sunnyside gewoon, maar dit was in die vroeë 70’s. Wonder of ek die plek nog sal herken.
Dis dieselfde tyd wat ek daar gewoon het. Nee, ek dink nie jy sal nie.
Ai Tannie… tannie laat my nou so verlang na die ou Sunnyside van die 1980s…. Ek het altyd met die bus na-skool of op naweke na Sunnyside gery om te gaan fliek by die Village of Oscar fliek teaters. Of om op ‘n naweek na die vlooimark te gaan. dit was ‘n prgatige plek gewees met gawe mense en nie skorrie-morries en Nigerier dwelembase nie… Op die hoek van Esselen en Meintjies strate het ek my ‘comics’ by die beste bakkery in die stad gaan koop en soms selfs boeke daar gekoop… ek wil sommer ‘n traan snik vol van verlange.
aha jaaaa die flieks Ai lekker tye
Ek was mal oor fliek, is nogsteeds. Ek het oor die 5000 flieks in my versameling 🙂
Ja maar Sunnyside was spesiaal Ek het vir ‘n jaar teruggegaan om verder te studeer en dit was vreeslik spesiaal Ons het in die koshuis gewoon maar jy het ‘n kar en ‘n sleutel vir die voordeur gehad – ook elke maand se salaris. Sug… lekker ou dae!
Ek het ook vier jaar daar gebly…1971-1974 in Huis Meyer.So ‘n lekker atmosfeer gewees met al die studente en jongmense.Was die begin van die jaar daar en was uit my skoene geskok oor hoe dit nou lyk!
Net na ek daar weg is… lekker tye!
Ja die lekker ou onderwyskollege!
Was jy ook daar? Sal maar nie waag om te vra watter jare nie
Jip,1971 -1974
Aaaaagggg jou net gemis Ek het in 1971 begin skoolhou!
Sjoe,maar toe het jy darem al die wêreld daar vir my mak gemaak😀
Hehehehe… nee jong ons het naby die stad gewoon en ek het elke naweek huis toe gegaan
Oeps… ek dink my somme raak nou deurmekaar. Jy het al voor die oorlog daar gewoon? Ek was toe nog nie eers gebore nie… eeemmmm ek moet vir my buurvrou dit vertel! Kyk net hoe rekenaarvaardig Ek is diep beïndruk!
Nee, nee, so oud is ek darem nie… Die woonstelgeboutjie is reeds voor die oorlog gebou – ek het heelwat later daar ingetrek 😀
Ha ha, suster Tina he die kat aan die stert gehad.
Toe ek dit geskryf het, het ek nogal gedink daar is ruimte vir misverstand!
Ek het self ook die sin n tweede keer gelees en besef dis die gebou en nie jy nie.(nou glimlag ek weer hier op my eie! :D)
Ek spot sommer!
Hoe verlang ek ook nou na daardie ou Sunnyside. Was my laaste jaar ook in Huis Meyer gewees. Eerste een in die “voor oorlogse?” huis Hoogenhout.
Een keer per week het ek by Oscar gaan fliek vir 19c omdat ek n student was. Normale prys was 20c. as ek diep in my geskrifte grawe kan ek moontlik nog n kaartjie kry.
Jy laat my onthou van ons woonstelletjie bo-op die ou winkeltjies van die ooorspronklike Hatfield Galleries, met die tandarts eenkant en liewe bure anderkant, en n uitsig op die MonteCarlo-fliek. En Tony se kafee reg onderkant ons eerste verdieping vensters. Dit het n bymekaarkomplek geword vir ons jongklomp op Sondagaande wanneer ons honger en songebrand teruggekom het van die Magaliesberg of ander bergklimekspedisies. Ek verstaan Hatfield is ook nie meer dieselfde nie?
Nee, dit het geweldig uitgebrei, dis middestad-besig en vuil en vol ledige mense.