Sy staan by die stoof, besig om die wortelrepies in botter en suiker te roer sodat dit kan karamelliseer: my pa se ma, my ouma Susan. Ek wens ek het haar beter geken, maar ek was lief vir haar. Daar is ʼn kiekie van ʼn groot vrou met vlegsels netjies om haar kop vasgesteek en ʼn kleinkind op die arm… Vandag nog, as daardie soetwortels so taaierig blink braai in die pan, is dit my huldeblyk aan haar.

My mammie was ʼn beroepsvrou, ʼn toegewyde, gedrewe onderwyseres. Kos was vir haar ʼn nodige lastigheid, wat goeie brandstof vir ander aktiwiteite moes verskaf. Terwyl die huisvrouens rondom ons vroegmiddag reeds geurige aandetes begin berei het, het ons reeds na skool die stoompot se inhoud verorber: vleis en aartappels onderin en drie soorte groente in die driehoekpotjies bo-op. Ons het dikwels vis-en-tjips geëet – dit was destyds die enigste beskikbare wegneemete. Sondae het my pa ons na ʼn inrykafee geneem, waar ons ʼn “mixed grill” (die Afrikaanse “allegaartjie” het nooit juis inslag gevind nie) kon bestel, en pienk melkskommels vir my en my boetie. Vandag se wye aanbod van kitskos sou vir ons gesin  – en veral vir my arme ma! – ʼn wonderlike uitkoms gewees het.

Pampoen met broodblokkies, in die oond gebak tot ʼn goudbruin stroperige heerlikheid, laat my aan my vriendin Helena se mammie dink. Sondagmiddagete, met stowevleis en groenbone-met-aartappels, was spesiale bederf vir ʼn woonstelbewoner.

O, die Sondagmiddae op my skoonma se stoep! Al ses kinders met hulle aanhangsels vergader om ʼn lang gedekte tafel wat kreun onder die kos (twee soorte vleis, brosgebakte aartappels, soet ertjies met ʼn bietjie vlapoeier in die sousie, gebraaide patats, twee soorte slaai… en dan nog gebakte poeding met vla).

Die naaste wat ons deesdae aan ʼn spesiale Sondagmiddagete kom, is ʼn braai. Vir karnivore is dit ʼn heerlikheid, die ander konsentreer maar op die lekker braaibroodjies met kaas, tamatie en uie. Aandetes is ʼn haastige affêre – ai, ek is dankbaar, dog teëgeëet aan pasta.

Soms kry ek nog kans om outydse kos te kook, iets waarvoor ek lief is. Ek versink in rustigheid en slof-slof salig in die kombuis rond. Ongelukkig het die hond my boerekosresepteboek opgevreet…

 

Advertisements