Sleutelwoorde

, ,

Vir die tweede keer het die uwe ingeskryf vir WordPress se inleidende blogkursus (die vorige poging het nie enduit gehou nie) – vandaar hierdie stukkie, want as eerste opdrag wil hulle hê mens moet oor jouself skryf.

Iemand by die werk het my “Tannie Frannie” begin noem (die “Frannie” rym met “Tannie”) en ofskoon ek aanvanklik skuins opgekyk het oor die ouderdomskonnotasie wat daar iewers geskuil het, het ek besef dat dit ʼn spesiale blykie van toegeneentheid was. Toe ek in Augustus 2011 by Litnet begin blog het, het ek doelbewus hierdie skuilnaam gekies om vrede te maak met die feit dat ek reeds wel deeglik ʼn “tannie” was.

Daar by Litnet het ek heerlik in Afrikaans geblog en blogvriende gemaak wat ek nou nog mis. Ongelukkig was daar ʼn gebrek aan tegniese ondersteuning, wat daartoe gelei het dat ʼn klompie bloggers in Mei 2014 besluit het om uit die visdam van Litnet in die grote oseaan van WordPress in te spring. Ek was nog nooit spyt dat ek deel van daardie migrasie was nie. WordPress se tegniese ondersteuning is verstommend effektief: die “happiness engineers” (watter wonderlike titel) reageer onmiddellik op die simpelste vrae, met duidelike aanwysings en sonder om ʼn BBT (“Born Before Technology”) dom te laat voel. Die reeks kursusse waarvoor mens slegs met die klik van ʼn knoppie kan inskryf, dek die meeste vrae en is uiters leersaam. Ek hou veral van die demokratiese opset (hulle noem bv. Afrikaans as een van die tale wat hulle ondersteun) en die goeie blog-etiket wat deurgaans bevorder word.

Die rustige strepieskat van my avatar was op ʼn verjaarsdagkaartjie, jare gelede van my dierbare dogter af. Die kaartjie het my ingelig dat ek, in my stryd teen die ouderdom, besig was om goed te vaar: “You’re holding up well”. Van al die kat-kaartjies wat sy my al gegee het (omdat sy weet dis haar ma se gunstelingdier), het hierdie een my hartsnare die diepste geraak.

Skryf is vir my terapie: as ek my oor iets bekommer, of hartseer is, of vies, of woedend, of as iets so mooi is dat ek wil huil, dan skryf ek. Soos wat my kleinseuntjie se lyfie verslap as hy sy fopspeen suig, so ontspan my gemoed as ek skryf.

Afrikaans is my moedertaal, die taal waarin ek sing, droom en aanbid. Jare lank moes ek my brood en botter met behulp van Engels verdien, maar nou is my tyd my eie en so ook my taal.

WordPress beklemtoon dat die blogs wat ʼn mens volg en die kommentaar wat jy gee en ontvang, ʼn hoogs belangrike deel van die blogervaring is en daarmee stem ek van harte saam. Dankie aan elkeen van julle wat hier lees en gesels, julle verbreed my horisonne, verras, vermaak en verstom my elke dag!

Advertisements