My dogter het ʼn tatoe van ʼn hibiskusblom skuins agter op haar lae rug – haar eie ontwerp. Hibiskusblomme pas by haar: sterk, mooi en kleurvol. Op die luukse dik wit kamerjas wat sy my tydens my kuier in die VSA present gegee het, blom hibiskusse in skakerings van pers en pienk. As ek daardie kamerjas aantrek, is dit asof sy my in haar arms toevou. In haar eerste nag op hierdie aarde het daar ʼn klein ligpienk rankrosie by haar koppie gelê, gestuur deur my mammie ter viering van haar eerste kleinkind. Nou-die-dag het ek verras vasgesteek by ʼn heining om ʼn soortgelyke rosie te bewonder en te verlang…

In my mammie se huis was daar altyd blomme, maar die een blommetjie wat my altyd aan haar laat dink, is ʼn viooltjie. Vaagweg onthou ek dat my pa viooltjies vir haar gebring het toe hy nog by haar vlerkgesleep het. Hoe verlang ek na die vars geur van blomme en groenigheid in my ouerhuis…

Jare terug, toe ek nog in die sweet van my aanskyn in verkeersknope moes vassit, sien ek skielik die papawers in ʼn beddinkie langs die straat: teer, papierdun blomblare skyn sonnig in warm kleure…en ek onthou hoe ons die harige stingeltjies van die “pôppies” se punte in ʼn kersvlam geskroei het voordat my mammie dit rangskik, sodat dit langer kon hou. Die verkeer begin beweeg en ek ry verder terwyl ek na my pa verlang.

Hy was ʼn plaaskind wat op ons voorstedelike erf en in die skooltuin steeds sy verknogtheid aan die grond gevier het deur tuin te maak. My pa is in so baie blomme: papawers, dahlias en pom-poms, gesiggies, leeubekkies, rose… Ai, die lieflike rose wat hy in oordaad vir my gepluk het om saam te vat woonstelletjie toe!

As ek ʼn sonneblom sien, dink ek aan my pa en hoe ek ʼn olieverfskilderytjie van sonneblomme vir hom bestel het, wat eers na sy onverwagse dood gereed was. Die kunstenaar het verstaan toe ek die bestelling kanselleer… Dit moes sonneblomme wees, vanweë my pa se gunstelinggedig:

Ah! Sunflower – William Blake (1757 – 1827)

Ah! Sunflower, weary of time,

Who countest the steps of the sun,

Seeking after that sweet golden clime

Where the traveller’s journey is done;

 

Where the youth pined away with desire,

And the pale virgin shrouded in snow,

Arise from their graves and aspire;

Where my sunflower wishes to go.

Advertisements