Toe ons nou so oor mense en blomme blog, het nog ʼn herinnering in my opgewel: aan ʼn grandiose gebaar in ʼn gelukkiger tyd…
Durf ek daaraan terugdink? Durf ek daaroor skryf? Sal ek bloederig anderkant uitkom, of sag-mymerend en vol berusting?
My gewese man het destyds hoofsaaklik in die Kaap gewerk. Hy het ʼn woonstel in Groenpunt bewoon en ek en die kinders het die tuisfort in Pretoria gehou, veilig in die wete dat hy vir ons lief is. Vir ʼn groot okkasie het hy my Kaapstad toe laat vlieg.
Toe ek by die woonstel instap, sien ek dadelik die yslike rangskikking proteas in die portaaltjie. Nog ʼn vaas met fynbos trek my oog – en nog ʼn bos proteas, nog een, nog ene…
So dwaal ek van die een heerlikheid na die ander, dwarsdeur die hele woonstel. Hy het selfs die ysemmer as blompot opgeoffer!
My gewese man is sjarmant, wat my mammie genoem het: “Hail, fellow, well met!” Hy kan lekker gesels en mense voel instinktief aangetrokke tot hom. Die vorige week het hy deur ʼn Kaapse vriend ʼn blomboer ontmoet en saam het die driestuks sy verrassing beplan. Vragte blomme het die liewe boer van sy plaas af aangery en gewese liefling het ure lank daaraan gerangskik.
Dit het my asem weggeslaan, daardie uitbundige verwelkoming in die mooiste Kaap.
Aggenee, dêmmit, die berusting bly steeds uit…
Weet nie hoe lank gelede jy hiervan praat nie Frannie, maar dit is goed om oop te maak en oor jou seer te skryf. Jy trap op daardie heilige grond, en kyk hom vierkant in die oë. Berusting? dit kom maar gaan nooit dood nie.
Die proteas het my so ongeveer 25 jaar gelede begroet en die hartseer is vanjaar 10 jaar oud. Ek slaan dit gewoonlik suksesvol hok, maar vanoggend het dit handuitgeruk.
Dit maak so…. word eweskielik lewendig hier in ‘n mens se binneste. Ek het gevind dit was terapie om woorde aan my seer te gee…. daaroor te skryf. Sterkte vir jou.
Snaaks genoeg het die dood van my vriendin wat VSA toe is my nie erg gevang nie (sy was al baie lank weg) maar nou die dag toe ek musiek vir die skool reunie bymekaar maak speel ek weer red river valley en net daar raak ek sommer dof toe ek onthou hoe ons die oumense geskok het met ons rock & roll dans
O, ek onthou daardie liedjie – ek sou graag daardie dans wou gesien het!
Op daardie tydstip het jy dit vreeslik waardeer en geniet en jy mag maar sekerlik weer die gevoel ervaar.Ai,so jammer van jou seer,Frannie.
Dankie, ‘Bytjie.
Mens moet oor die seer praat! Sterkte!
Jy is reg, praat en skryf – dis terapeuties.
Joe, nou sit ek hier met gemengde gevoelens en wonder of ek nog van proteas hou. Maar hulle was darem mooi, toe, op daardie geleentheid?
Hulle was pragtig en is dit vandag (gelukkig) nog. Dankie vir jou susterlike solidariteit!
Neee kragie , allemagtie… hoekom moet mens soms so met met mooi goed hartseer onthou…
Seker maar omdat mooi en seer albei in die lewe ingeweef is? Maar ek waardeer jou verontwaardiging, liewe Tina!
Hehehehe … ek sien ek kan nie eers meer netjies vloek nie KRAGTIE is die woord! en ALLAMAGTIE Miskien kan ek die B en D-woorde beter spal?
Weet jy nou raak jy n baie teer puntjie hier by my ook aan. Ek het juis vir Kameel gesê my man sien ek in n konings protea.Ek het ook eendag toe ek by die huis kom n pragtige bos gerangskikte proteas gekry. Min wetende dat dit eintlik n teken van – ek is jammer omdat dinge gebeur het wat ek toe nog nie van geweet het nie. My oorlede man was ook n sjarmante uiterlik baie liefdevolle mens. Baie gevoelvol en romanties. Die buite verhoudings (waarvan ek natuurlik die laaste een was wat dit besef het) het hom telkens so rouvol gemaak. Die proteas was werklik die laaste jammersê ruiker. Dis hoekom die protea my herinner aan die sagte binneste deel wat die hart is wat kiefdevol is met die buitense harde stekelrige kroon wat kan seermaak en afkraak. Sjoe nou het ek baie gesê. Dis nog steeds hartseer na 23 jaar en klap my soms hard in die gesig maar steeds kom daar weer die tevredenheid en gemoedsrus dat n saak twee kante het al weeg die een meestal swaarder as die ander.
Aitog, eina – maar jy het so mooi vrede in jou hart gemaak.
Blomme – laat ons lag en huil. Ons moet seker maar al die emosies embrace. 🙂
Terug pieng: Toeka-Tokkel no 18:Eetgoed toe/en/of nou – I scrap 2
Mooi was nog nooit lelik nie. Onthou die mooi vir altyd!! Sterkte.
Saam met die seer die mooi van onthou. My dogter se gunstelingblom.