Toortsie se “grond en stof en klippe” het my nou geïnspireer om ook terug te dink…

“Giffie” was op ʼn stadium ʼn gunstelingspeletjie, maar ek moes gaan Google-loer om die reëls in besonderhede te onthou, want ek het dit net ʼn kort rukkie gespeel, toe belet my ouers daardie speletjie. Ofskoon hulle my toegelaat het om ʼn willewragtig te wees, het hulle die streep by hierdie speletjie getrek – waarskynlik omdat hulle dit regtig as gevaarlik beskou het. Ek onthou die drie gaatjies in die grond, die plat klippe wat gegooi word en soms hoog opgespring het, die opwinding en die inspanning…

Teen die garage-muur het ek “sewetjie” gespeel (ʼn spel wat seker meer gepas was vir ʼn dogtertjie): sewe verskillende maniere om sewe maal ʼn tennisbal teen die muur te gooi en weer te vang, bv. vang dit direk; laat dit een keer hop voor jy dit vang; laat dit twee keer hop; gooi dit onder jou been deur; draai in die rondte voor jy dit vang… Vang jy mis, moet jy weer heel voor begin!

Op my tannies se groot erf in Potch was daar ʼn heerlike gelyk stuk rooi grondpad waar mens die mooiste “hopscotch”-raamwerke kon trek – die een met die kringe en dubbelblokke en ook die vierkantige een. As ek ooit my kleinkinders wil leer speel, sal ek weer eens moet gaan Google-loer, want ek het al die reëls vergeet. Ag, en waar gaan ons ʼn stukkie grond kry in hierdie stedelike wêreld van teer, sement en plaveisel?

Advertisements