Teen my kamermuur hang ʼn pragtige geraamde legkaart – ʼn fantasiefiguur van ʼn vlindervrou met wilde blonde hare en pouvere, omring deur blomme, voëltjies en feë, in die pragtigste ryk, gedempte kleure met ʼn metaalglans. In die een hoek is daar ʼn silwerblou en pers see met seilskepe onder ʼn sekelmaan, en die water wat die see vorm, drup uit ʼn pragtige skulp. Daardie stukkie van die legkaart, waarop die druppende water afgebeeld is, kon ons eers heel laaste ingepas kry, want ek en my dogter het die stukkie heeltyd dwars laat lê in plaas van vertikaal, met die gevolg dat ons nie besef het die strepies is druppende water nie.

My kind het by ʼn boekwinkel gewerk toe sy hierdie legkaart gekoop het, in die tyd voordat sy oorsee is om by Disneyworld te gaan werk. Toe ons dit klaar gebou gehad het, het sy dit laat raam en nou is dit ʼn kosbare herinnering aan gelukkige ure wat ons saam kon deurbring.

Ek kyk dikwels na daardie laaste stukkie en wonder wanneer en hoe ek die laaste stukkie van my lewenslegkaart ingepas gaan kry… Is daar iets wat ek strykdeur verkeerd-om laat lê? Om ure lank aan ʼn legkaart te bou en dan agter te kom dat ʼn paar van die stukkies weg is, is ʼn groot teleurstelling. Hoe nou gemaak met verlore stukke en die lelike gate wat dit in my lewe laat?

Te midde van my wroeging eggo die woorde: “Kyk, Ek maak alles nuut.” (Openbaring 21:5)

 

 

Advertisements