Vandag kierang ek, want ek gaan oor die verskillende vorme van my naam skryf, nie juis oor rêrige byname nie.

Ek het my ouma se tweede naam gekry – Francisca – en dit was nog altyd vir my ‘n mooi naam, dus ag ek myself baie gelukkig. (Anders as my liewe dogter, wat die naam Vilette gekry het, omdat haar ouma Violet niks van die idee gehou het dat haar kleindogtertjie met “Violet” opgesaal moes word nie. “Vilette” is die Afrikaanse benaming vir die mooi, geurvolle pers en pienk ritse wintersblomme wat die Engelse “stocks” noem – en dit was ook die skuilnaam waaronder haar ouma af en toe artikels en briewe aan die pers geskryf het. Ek dag toe dis ‘n goeie kompromie – hoe moes ek nou weet dat haar hoërskoolmaats haar “steak” sou doop!!)

Deur die jare het verskillende vorms van my naam verskillende persona vergestalt:

Cisca – geliefde dogter van liefhebbende ouers. ‘n Paar mense noem my nog so: my voormalige bure uit die dae toe ons kinders grootgemaak het; my ouderling en diaken uit daardie selfde tyd. Wanneer iemand my so noem, versmelt my hart…

Fanska – bedorwe brokkie van my ma se suster, Tannie Katy – die pragtige mens wat nooit getrou het nie en so lekker met haar susterskind gespeel het. Ek onthou nou nog hoe sy my teddiebeer gryp en kammakastig met hom weghardloop. Haar kamer was de ene “glamour”, omgeef deur die heerlike geur van Philnana-parfuum, met ‘n ingeboude kas waarin Fanska kon inkruip om die talryke mooi skoene te bewonder.

Fran (my gunsteling!) – my alter ego se naam: die amateurtoneelspeler, die onafhanklike jongmeisie wat laatnag na repetisies met haar rooi kewer deur Pretoria se strate huis toe gejaag het. My kosbare vriend uit daardie dae noem my nou nog so en dis vir my heerlik om op daardie naam voorgestel te word.

Fransie (og, hoe het ek dit gehaat!) – een van my kollegas het my so genoem en omdat ek jonk en beleefd was, kon ek nooit die moed bymekaarskraap om hom te vra om dit nie te doen nie.

Grimzelda – ja, ek weet ook nie hoe dié pêl daarby uitgekom het nie! Dalk omdat ek dikwels vir hom vies was?

Tannie Cicca – die naam waarop my broerskinders my noem.

Tannie Frannie (“Frannie” rym met “Tannie”) – die blognaam wat ek gekies het toe ek doelbewus met die benoeming “Tannie” wou vrede maak. Een of twee bloggers noem my net “Frannie”, ‘n bedagsame gebaar wat ek geweldig waardeer. Sien, Afrikaanse kinders word op een van twee maniere opgevoed: óf jy “Oom” en “Tannie” voor die voet almal tien jaar ouer as jyself as teken van respek, óf jy doen dit NIE want hulle is nie familie nie! Diegene wat volgens laasgenoemde beginsel grootgemaak is, is die ouens wat sukkel…

 

 

Advertisements