In die dae van my jonkheid was dit die toppunt van sofistikasie om te rook. Toe my karakter in ʼn verhoogproduksie ʼn sigaret moes aansteek, was my doppie geklink. (Ja, ons het orals gerook! In vliegtuie, busse, treine, op kantoor, by die huis, in die flieks en op die verhoog.) Dit was nie lank nie, toe koop ek my eie pakkie sigarette: so ʼn stylvolle goue pakkie waarvan die dekseltjie heeltemal oopgeslaan het. Op ʼn stadium was my verbruik 19,5 sigarette per dag (statisties gesproke, dis nou nie asof ek elke dag ʼn halwe sigaret doodgedruk en vir môre gebêre het nie).

Lank voor die drakoniese maatreëls waarmee die arme twakverslaafdes deesdae te kampe het, het ek egter besef dit kon nie so aangaan nie. Dit het my tien jaar gevat om die gewoonte finaal af te sweer. Dit was soos ʼn liefdesteleurstelling: eers dink jy dag en nag aan jou verlore geliefde, later besef jy skielik: “Haai – ek het gister laas aan … gedink” en nog later gaan daar ʼn week/maand/jaar sonder verlange verby. Tog geniet ek dit vandag nog om skelmpies diep in te asem as ek verby ʼn rookarea loop.

Sonder die wonderlike troos van ʼn koppie tee sou ek dit nooit reggekry het om op te hou rook nie. Ja, ek het een verslawing vir ʼn ander verruil, maar hierdie een is ten minste sosiaal aanvaarbaar.

old_lady_cigar_smoking_

Advertisements