Van “The Fairies’ Lamplighter” op agtjarige ouderdom tot by “In stede van die liefde” deur Etienne van Heerden ʼn leeftyd later, was lees nog altyd vir my ʼn vreugde. Iemand wat lees, kan net nooit verveeld wees nie. Dit maak my bly om te hoor van kinders wat lees – kyk gerus hoe skryf Lomi daaroor.

My smaak is eklekties – Karel Schoeman, John Steinbeck, Nora Roberts, Pat Conroy, Terry Pratchett, Annelie Botes – maar ek’s bevrees dis alles fiksie. Het al baie gewonder oor dié voorkeur, want lees sluk baie ure in en wat is die nut van al daardie tyd dan as dit net om stories gaan? Tog kan stories mens so ʼn helder blik op die werklikheid rondom jou gee.

Die afgelope paar dae lees ek Deon Meyer se “Kobra”, wat in 2013 by Human & Rousseau verskyn het – ek moes wag tot dit in die bib beskikbaar was. Het hom eenkeer hoor praat oor sy skryfwerk en hom sommer liefgekry oor sy eerlike nederigheid. Mens kan nie sy boeke neersit nie, al is die detail soms ontstellend, soos dit maar gaan met aksieverhale.

In “Kobra” is daar ʼn toneeltjie waarin die skrywer se liefde vir Suid-Afrika en al sy mense ʼn verwondering in my hart laat blom het. Bennie Griessel, speurder, praat met sy kollegas:

“We are the police. We enforce the law, the one that says if you kill someone, you have to pay. That is what I want to do: catch them, and make them pay. It is the only thing I can do. It is the only difference I can make. And I just think…” en hy wonder, waar kom dié kak vandaan wat hy nou gaan sê, maar hy sê dit, met die volle verwagting dat Cupido hardop vir hom gaan lag: “If we all…If everybody in this country can just try to make a difference, then everything will be O.K.”

Net die groot bieryskas in die hoek se motor is hoorbaar.

Hy weet hy het nou net ʼn krater van homself gemaak.

Tot Mbali sê: “Bennie, that was beautiful.”

En Bones knik instemmend, en Zola Nyathi het ʼn klein glimlaggie op sy gewoonlik onpeilbare gesig.

Advertisements