Toe ek vir my ouers (albei onderwysers) sê ek wil ʼn juffrou word, het hulle soos een man NEE gesê en omdat ek ʼn geseglike kind was, het ek in hulle weiering berus. Die redes het later uitgekom en een daarvan was dat ek te ongeduldig was. Hm – ek dink al hoe meer hulle was reg!

Baie, baie jare lank het ek Sondagskool gehou, maar vanjaar is my swanesang. Die kombinasie van ʼn dosyn uiters lewendige graad viers en ʼn halfdowe tannie is nie ʼn gemaklike een nie. Sondag het ek weer na ʼn halfuur uitgeput huis toe gesleep en gewonder hoe op aarde doen ʼn juffrou dit dag na dag, van seweuur tot tweeuur, met sport/kultuur smiddae, nasienwerk en voorbereiding en administrasie saans/snags, konserte, basaars, buitemuurse bedrywighede…

Onderwysers het ʼn verstommende invloed op die atmosfeer in die huise van hulle leerders. As ʼn kind in die skool gelukkig is, is hy tuis ook ʼn plesier – en andersom…

Ons kan elkeen bepaalde onderwysers onthou wat ons idealisme aangewakker het en ons menswees ten goede gevorm het. Vir hierdie stille helde haal ek my hoed af; ook vir daardie onderwyser-blogmaats wie se liefde vir hulle beroep uit hulle skryfwerk straal: Tina, Scrapydo, Carol…

Advertisements