Volgens Wikipedia (dis ook waar ek die foto’s gekry het) is die ietermago (wisselvorme is ietermagog of ietermagô) ʼn soogdier waarvan die vel met harde horingskubbe oorgetrek is. Dis ʼn nagdier wat in die oostelike en suidelike dele van Afrika voorkom en miere en termiete vreet.

Boshoff en Nienaber bespiegel in Afrikaanse etimologieë oor die herkoms van die woord en noem machocho (Tswana vir ʼn soort vlerklose insek = mier?) of magogwe (Tswana vir ʼn ratel = sy verbreking van ʼn miernes laat mens dink aan ʼn ratel se behandeling van ʼn byenes). Hulle noem ook die vorm “Ijzermagauw of the Boers” wat in 1896 deur FV Kirby opgeteken is in sy boek In Haunts of Wild Game, maar hulle gee nie uitsluitsel nie.

Wikipedia noem die ietermago een van die Onmoontlike Vyf – vyf diere wat so skugter is, dat dit bykans onmoontlik is om hulle in die natuur op te spoor. Die ander vier is die Kaapse bergluiperd, die erdvark, die witleeu en die oewerkonyn.

ietermago

As die ou bedreig voel, rol hy in ‘n bolletjie op.

ietremago in 'n bolletjie

Watter wonderlike voorreg om te weet van sulke diere!

Na al daardie navorsing is my gô ook nou sommer uit.

Advertisements