G staan vir Gabriella, wat beteken “God is my krag”. Ons noem haar sommer Gabby – my kosbare kleindogtertjie wat nou twee jaar en amper vyf maande oud is. ‘n Inwonende ouma kan ‘n besonderse verhouding vestig met die kleinkindjie wat haar huismaatjie is. Vir Gabby is ek mooi – sy vertel my dit wanneer sy my hare vir my kam. Sy dink ek is snaaks – “hier kom die kieliekrappie” veroorsaak die wonderlikste lagbuie. Sy is die simpatiekste gehoor op aarde – liedjies in ouma se bewerige stem, rympies wat darem beter klink in ouma se praatstem, stories wat vir die soveelste keer gelees word – alles word met belangstelling beluister. Ek sal nooit die dag vergeet toe ons “Ou Oom Klasie het ‘n plaas” deurgedraf het van begin tot einde met elke denkbare plaasdier nie. Die kindjie slaan haar armpies om my bene en roep uit: “Ek is lief vir jou!”

Advertisements