Vanoggend ry ek stad toe om vir Emmah ‘n kospakkie van die kerk te vat. Dis ‘n ander wêreld, nie meer die Pretoria van my jeug nie. Mense loop na willekeur oor die strate, taxi’s swenk goedsmoeds uit een baan in ‘n ander in. ‘n Metropolisielid vra my bestuurslisensie en sy vriendelike, intelligente blik gee my sommer moed vir die volgende om-die-blok-ry, totdat ek uiteindelik en genadiglik vir Emmah tussen die mense raaksien.

Ek gaan laai haar in Marabastat af – dit lyk omtrent soos ‘n oorlogsone. Die sypaadjies is stukkend, die straatoppervlak gehawend. Mense stoot trolliewaens heen en weer – stadig en oënskynlik doelloos. Hulle verduur geduldig die “ouma” wat met oopgesperde oë die stuurwiel vasklou en op ‘n stadium wild agteruitry om by die regte straat te kan indraai. Na ‘n uur en ‘n half van suiwer paniek kom ek weer in die rustige groen strate van die voorstede tereg. Maar vanoggend het my gemoed geknou…

Vrydag het Middelkind na Ierland geëmigreer. Jare gelede het ek oor hom geskryf, die tiener wat die volgende slagspreuk op sy penneblik geskryf het: “Master of all he surveys”. https://blogs.litnet.co.za/frandr/2013/04/25/gedagtes-by-n-verjaarsdag

Ons kon dit nie bekostig om hom universiteit toe te stuur nie, dus het hy op eie stoom ‘n honneursgraad in rekenaarwetenskap verwerf – terwyl hy voltyds gewerk het, saans internasionaal vryskutwerk gedoen het, en nog gesinsman ook was (alle eer aan my skoondogter, wat hom so volkome ondersteun!) Daardie honneurs-skripsie was ‘n uitgewerkte strategie om geld by afgeleë mense uit te kry – iets wat sy ma vanoggend se vagevuur-ervaring sou kon gespaar het. Hierdie SA burger, wat nog soveel sou kon beteken het (dalk deur sy strategie te verwerklik?), wil nie meer in sy vaderland bly nie…

Soja, nou voel ek beter – soos altyd weer na ek geskryf het. Emigrasie is ‘n uiters sensitiewe onderwerp – iets waarvan ek salig onbewus was tot ek bietjie daaroor gaan google-loer het! Toe my broer Nieu-Seeland toe is, het hy hom voorgeneem om nooit iets negatiefs oor Suid-Afrika te sê nie. Dis ook vandag my eie voorneme. Ek sal rustig woon en werk, hier waar ek geplant is…

 

Advertisements